
Toyota het sy Hilux SRX-reeks en sommige Fortuners se lippe so effe rooi gemaak om weer vir ’n slag “gesien” te word tussen al die ander eentonners en sportnutse op die dansvloer…
En hierdie is g’n nuwe ding eksklusief uit die Toyota-stal nie, nee, almal doen dit gereeld in ’n poging om hulle markaandeel uit te brei of ten minste te handhaaf. Dit is veral belangrik in die uiters mededingende mark vir eentonners en sportnutsvoertuie.
Baie onlangs was dit die Isuzu/Trailblaser-reekse wat opgekikker is en byna terselfdertyd bied Ford ’n outomatiese ratkas op sy 2.2 dieselbakkies èn stoot ook ’n meer bekostigbare Everest in die vertoonlokale. Met ’n uithalerverkoopsyfer van meer as 30 000 eenhede sedert Februarie vanjaar, bly die Hilux een van die gewildste voertuie in Suid-Afrika.
Om die jongste verbeteringe raak te sien, moet jy egter skerp kyk:
Die Hilux SRX-modelle spog nou met ’n breër bakwerk… met ’n bykomende 55 mm meet hierdie enkel- en dubbelkajuitbakkies nou 1 855 mm van kant tot kant. Terloops, die Xtra-cab-modelle het reeds die breër bakwerk gehad. Die buite tru-spieëls huisves nou ook flikkerligte en behou die matswartafwerking en elektriese spieëlverstelling.
Die staalwielvellings met 225/70/R17-buitebande maak nou plek vir allooivellings met (groter) 265/65/R17 veelterrein-buitebande. Dieselfde word vir die Raider-reeks gebruik. Die SRX-reeks is beskikbaar met die 2.4 GD-6 turbodieselenjin (110 kW/400 Nm) of die 2.7 liter VVTi-petrolenjin.
Wat die Fortuner betref, maak die 17 duim-allooiwielvellings plek vir 18 duimers met 265/60/R18 buitebande wat die voertuig ’n meer prominente voorkoms gee. Die intreevlakmodelle met die 2.7 VVTi- en 2.4 GD-6-enjins behou nou wel die 17 duim-allooiwielvellings, maar die materiaalbekleding word met leer vervang.
En dít is die somtotaal van Toyota se jongste verleiding…