Die hitte wat in die Oos-Kaap en Langkloofvallei heers, bedreig nie tans die steenvrug-oes nie, maar boere hou steeds hul asem op.
Mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê hoewel temperature van tot 40 grade Celsius die afgelope twee weke in die omgewing voorkom, het dit tot dusver nog nie ’n beduidende invloed op die vrugte-oes aan die bome gehad nie.
“Die pruime se druk het al ’n bietjie geval, maar tot dusver het dit darem nie ’n te groot rol gespeel nie,” verduidelik De Wit. Hy sê uitermatig hoë temperature, wat vir sowat ’n week aaneen voorkom, lei uiteindelik tot die interne verbruining in vrugte.
Ná oorstromings en droogtes die provinsie sedert 2007 geteister het, sien vrugteboere in die Langkloof dié seisoen uit na ’n goeie oes.
Voorbereidings
De Wit sê moderne tegnologie en geredelike toegang tot inligting stel boere deesdae in staat om so ver moontlik op natuurverskynsels voorbereid te wees. Dit is egter nie altyd moontlik om ondanks alle redelike voorsorgmaatreëls ten volle voorbereid te wees nie.
“Ons het boere, sowat 20 km van Misgund af, wat op Kersdag erge hael gehad het en tussen 50% en 100% van hul oes verloor het. Daarteen kan jy nie jouself nie beskerm nie,” aldus De Wit.
’n Erge hittegolf het verlede jaar ’n week later as vanjaar in die vallei voorgekom, wat die vrugte kwaai beskadig het. “Dié jaar het die hittegolf gelukkig op die regte tyd gekom, as so iets op ’n regte tyd kan voorkom,” verduidelik De Wit.
Hy sê hulle is dankbaar dat koeler weer vir die komende weke voorspel word.
19 Januarie 2012