
’n Groter bewuswording en tydige maatreëls om natuurrampe te voorkom en te bekamp is nodig in die stryd teen veldbrande, teenoor ’n reaktiewe benadering met optrede eers nadat rampe plaasgevind het.
Mnr. Malcolm Proctor, adjunk-direkteur in die departement van landbou, bosbou en visserye, sê as hulpmiddel hiervoor benut hy ’n stelsel van risiko-bepaling wat op akkurate en tydige vooruitskatting gegrond is. Ingevolge die Vrystaat se jongste brandvooruitskatting (aangehegte kaart) gaan meer as die helfte van die provinsie gebuk onder ’n brandgevaar wat van hoog tot uiters hoog wissel.
’n Waarskuwing van hoë brandgevaar is uitgreik vir die noordelike distrikte van Vierfontein, Viljoenskroon, Kroonstad, Edenville, Koppies, Vredefort, Heilbron en Parys. Dieselfde waarskuwing van 'n hoë brandgevaar bestaan vir die distrikte tussen Bloemfontein en die Goudveld en dit strek na die suidoostelike dele van Thaba Nchu en Botshabelo. Benewens ’n hoë brandgevaar in die suidoostelike distrikte van Clocolan, Ficksburg, Fouriesburg, Rosendal, Paul Roux en Bethlehem is daar dele waar die brandgevaar na baie hoog neig. Die status van die brandgevaar tussen Clarens, Kestell en Harrismith, wat Phuthaditjaba insluit, is egter uiters hoog. Die oostelike dele wat na Memel toe strek, tel ook onder die uiters hoë brandgevaar.
Volgens Proctor is grondeienaars geneig om te laat wakker te skrik met hulle brandvoorkomingoptrede. Hy sê in 2012 het sowat 30% van die Vrystaatse veldbrande by munisipale vullishope ontstaan. Deur tydige optrede is dié syfer tot slegs 4% in 2013 verminder met net 13 023 ha wat rondom vullishope afgebrand het. Uiterste weersomstandighede soos koue fronte kan ’n groot tol eis.
In 2013 is 15% van die brande veroorsaak deur grondeienaars wat veld gebrand het sonder om die weersomstandighede in ag te neem.
Proctor sê die 344 575 ha Vrystaatse veld wat in 2012 afgebrand het, kon minstens 57 429 beeste teen 6 ha per GVE van weiding voorsien het.