
Ná brandstofprysstygings verbruikers in September hard geslaan het, verwag ekonome verdere stygings in Oktober. Mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom by die Efficiënt-groep, voorspel dat die prys van ’n liter petrol met sowat 30c kan styg, terwyl ’n liter diesel meer as 30c duurder sal wees.
Me. Laura Campbell, ekonoom by Econometrix, voorspel ’n dieselprysstyging van 39c per liter, terwyl sy verwag dat petrol sowat 17c per liter duurder sal wees.
Stygings van 93c per liter vir petrol en 69c per liter vir diesel het op 5 September ingeskop. Die prys vir diesel is dié maand rondom R10,95 per liter.
Redes
Roodt sê een van die redes vir die voorspelde styging is die invloed van politieke onbestendigheid op wisselkoerse en die internasionale olieprys. “Die dollar het die afgelope paar weke swak vertoon, en die rand het teenoor die dollar verswak.”
Campbell sê die internasionale olieprys het sover dié maand op 14 September sy hoogste punt bereik teen $117 per vat. Die rand het op 4 September sy swakste vertoning vir die maand tot dusver aangeteken teen R8,41 teenoor die dollar.
Brandstofpryse vir Oktober word op 28 September aangekondig.