
Nadat die Hawereguleerder verlede jaar gevind het die koste om sake te doen deur Suid-Afrikaanse hawens is meer as vier maal duurder as die internasionale gemiddelde, het Transnet National Ports Authority (TNPA) ’n aansoek by hierdie einste reguleerder ingedien vir nóg ’n verhoging van 14,39% in hawetariewe.
Transnet voer aan dat agterstallige haweverbeterings van ongeveer R2 miljard en ’n verhoging van bykans 20% (van R3,6 miljard in 2013/’14 tot R4,3 miljard in 2014/’15) in die bedryfskoste die twee groot redes is vir die aansoek om ’n verhoogde tarief.
Maersk Line, een van Transnet se vennote, meen egter dat die TNPA eerder sy tarief met 1% moet verlaag om te voorkom dat ’n te groot surplus gelewer word. “Die voorgestelde tariefverhoging sal ’n groot nadelige uitwerking op die makro-ekonomiese situasie in Suid-Afrika hê en sal die internasionale mededingendheid van Suid-Afrika as ’n handelsvennoot drasties verminder,” meen Maersk Line.
Vrugte Suid-Afrika (VSA) het in sy kommentaar aan die Hawereguleerder aangevoer dat die TNPA ’n onrealistiese kosteverhoging weergegee het en nie die prosedures, soos wat in die handleiding van die hawereguleerder voorgeskryf word, korrek gevolg het nie. Daarbenewens het VSA dit ook duidelik gemaak aan die hawereguleerder dat die vrugtebedryf en die landbou in sy geheel nie nóg in skok kan ervaar nie nadat dit ’n verhoging van 70% in uitvoerkoste oor die afgelope vyf jaar moes absorbeer.
Die aansoek van die TNPA sluit ook ’n multi-jaarprysbepaling in wat beteken dat die tarief vir drie jaar elke jaar aangepas sal word op die goedgekeurde tarief. As die TNPA se aansoek goedgekeur word, sal dit in April in werking tree. Die Hawereguleerder het verlede jaar geen tariefverhoging aan die TNPA toegeken nie.
Vir nog inligting oor hierdie aansoek, besoek die Hawereguleerder se webwerf by www.portsregulator.org of kontak Mitchell Brooke van die Sitrusprodusentevereniging by Mitchell@cga.co.za.