
Die belangrikste vraag wat boere hulself nou kan vra is hoe hulle die ANC gaan oorleef? So het prof. Johan Willemse aan 'n vol saal by ’n sakeseminaar van die Thabazimbi-landbouskou gesê.
Die geheim, sê hy, is vir elke boerdery om 'n duidelike visie en doelwitte te hê van wat hulle wil bereik met gedetaileerde aksieplanne wat hulle daar sal uitbring."Verstaan die ANC en besluit hoe jy jou gaan aanpas en posisioneer om te kom waar jy wil wees."
Willemse sê boere moet aanvaar dat grond nie meer 'n belegging is nie, maar 'n fabriek is waaruit landbouers hul geld verdien. "Moenie al jou geld in die plaas sit nie en moenie grond koop wat nie tot jou produktiwiteit gaan bydra nie. Maak jou geld uit die plaas uit en belê dit elders."
Hy het boere oor die kole gehaal oor hul geneigdheid om op die negatiewe aspekte van die ekonomie te fokus. "Ek het al vir drie dae by 'n landboukongres gesit en luister hoe boere niks anders as klagtes en probleme bespreek nie. En wat ons eintlik moet bespreek is hoe ons gaan geld maak in hierdie omgewing."
Hy sê dit is presies wat die boere in Australië doen. Hy het onlangs 'n landboukongres daar bygewoon en hoewel boere daar ook talle uitdagings in die gesig staar, was die hoofonderwerp van bespreking hoe hulle meer kompeterend kan wees terwyl hulle insetkoste so laag moontlik hou.
Willemse meen boere moet bestuur wat hulle kan en nie energie mors op wat hulle nie kan beheer nie. Water en elektrisiteit gaan net aanhou om duurder te word - daardie pryse kan boere nie beheer nie, maar hulle kan wel die res van hul besighede bestuur om winsgewend te bly ten spyte daarvan.
"Vra julself as boere af: Hoe gaan ons vir 45 miljoen mense in ons stede kos gee en geld maak daaruit?"