
Een van die grootste tafeldruif-pakstore in die suidelike halfrond – wat 6000 m² beslaan, binne vyf jaar 900 000 kissies kan pak en 600 werksgeleenthede kan skep – ’n nuwe 140 ha onder tafeldruif-wingerd en die visie om omset met 300% te verbeter.
Dit is wat mnr. Jacques Beukes, Agri Wes-Kaap Santam Landbou se Jongboer van 2016, kan regkry, maar dit is deels moontlik gemaak deur ’n jong swart belegger met die finansiersingskrag van instansies soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie agter hom, mnr. Tebogo Magoshoa.
Magoshoa, voorsitter van die Tallis-groep, kom praat op die oggend van 14 Oktober by die Landbouweekblad-gesprek by die Sandringham-landgoed by Stellenbosch, oor die geleenthede wat transformasie in die landbou bied as ’n mens dit op die regte manier benader.
Dinamiese sprekers
Saam met hom praat nog vyf ander dinamiese en unieke sprekers. Mnr. Peter Draper, die hoofspreker, is ’n ekonoom en politieke kenner. Hy praat oor die groot en veranderende magte in die internasionale handel en politiek, wat uiteindelik boere beïnvloed. Mnr. Wiaan van der Linde, voorsitter van Wildbedryf SA en voormalige Wildboer van die Jaar, kom praat oor die moontlikheid van ’n florerende wildbedryf in die Wes-Kaap.
Ons luister ook hoe mnr. Angus McIntosh, ’n voormalige aandelemakelaar in Londen, ’n hoëwaarde-nismark-beesboerdery op die been gebring het en nou die top-sjefs in Kaapstad van vleis voorsien. En ons hoor hoe mnr. Jeff Every een van die grootste projekte met nuwe boere in die land in die sukkelende melkbedryf op die been gekry het.
Theuns Stofberg En dan, net vir die lekkerte, luister ons na Theuns Stofberg, die voormalige Springbokkaptein, wat vertel oor sy speeldae en uitdagings in sy lewe. Vroegmiddag, nadat die manne klaar gepraat het, gaan konferensiegangers kuier met ’n bietjie braaivleis en iets verkwikkends – dis per slot van sake Vrydagmiddag! * Indien jy voor 5 Oktober bespreek, kry jy meer as 40% afslag. * Vir bespreking: Nolene Bezuidenhout, tel. 021 406 4573, e-pos: Nolene.Bezuidenhout@media24.com