
Boere moet hulself deeglik vergewis van hul regte.
Kommunikasie tussen die onderskeie partye betrokke by ’n begrafnis op ’n plaas is van uiterste belang. Die TLU SA en Agri SA sê albei hulle hou die situasie dop nadat ’n grondeienaar van KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is omdat hy na bewering ’n man wat ’n begrafnisdiens op sy plaas bygewoon het, geskiet het.
“Die saak moet nog in ’n hof aangehoor word. Tydens die verhoor sal meer duidelikheid verkry kan word van die presiese gebeure voor en tydens dié voorval,” sê mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid vir veiligheid.
Wees ingelig oor almal betrokke se regte
Breytenbach sê dit is van groot belang dat boere hulself vergewis van hul regte as grondeienaars ten opsigte van versoeke vir onder meer begrafnisse op hul plase. Dit is ook belangrik dat boere ingelig is oor die regte van plaaswerkers en -bewoners ingevolge die bepalings van die Esta-wetgewing, veral van mense wat al langer as tien jaar op die grond woon. “Ons wil boere maan om nie die reg in eie hande te neem nie. Daar bestaan meganismes om so ’n situasie te hanteer.”
Hy sê dit is belangrik dat die protokol vir toegang tot plase konsekwent op alle plase toegepas word. Dit is een van die maniere om so ’n voorval te voorkom.
Agri SA en sy affiliasies het dokumentasie en voorbeelde van ooreenkomste opgestel waarmee hulle boere bystaan ten opsigte van begrafnisse op plase, asook besoeke aan grafte op plase. Die konsepooreenkomste is ’n kontrak wat die boer en die plaaswerker/-bewoner onderteken. Dit dui die voorwaardes vir begrafnisse en/of besoeke aan grafte duidelik aan.
Moeilik om “vaste reël” neer te lê
Genl.-maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA, sê dit is baie moeilik om ’n vaste reël oor dié kwessie neer te lê. “Die grondeienaar het die reg om te besluit om ’n begrafnis op ’n plaas toe te laat.” Hy sê dit is baie belangrik dat ’n versoek om ’n begrafnis op ’n plaas of ’n besoek aan grafte skriftelik tot grondeienaars gerig word. Die grondeienaar moet skriftelik op sulke versoeke reageer en skriftelike ooreenkomste moet tussen al die belanghebbende partye aangegaan word.
Dié organisasie bied ook konsepdokumente aan sy lede ten opsigte van begrafnisse en/of besoeke aan grafte op plase. Dié dokumente bepaal onder meer dat besoekers slegs bestaande plaaspaaie mag gebruik, alle hekke moet toemaak, nie diere mag steur, vullis mag strooi, na 18:00 op die grond mag wees of op die eiendom mag oornag nie. Besoekers moet verantwoordelikheid aanvaar vir enige skade wat die grondeienaar kan ly as gevolg van hul optrede.
Verder wys dit uit dat geen veranderings aan grafte of geen strukture by grafte aangebring mag word sonder die skriftelike toestemming van die grondeienaar nie. Die organisasie sê besoekers moet ook bevestig dat hulle geen grondeis op die plaas het of betrokke is by sodanige eis/e nie.
Volgens ’n regsmening wat die TLU SA oor die kwessie ingewin het, moet almal wat binne munisipale gebiede woon, die nodige graf binne ’n wettige begrafplaas verkry. ’n Begrafnis elders vereis nie net die verkrying van ’n perseel nie, maar ook spesiale toestemming.
“Buite die jurisdiksie van ’n plaaslike owerheid is die betrokke persoon/persone noodwendig afhanklik van die toestemming van die grondeienaar, hetsy die staat, ’n regspersoon of ’n individu,” lui die dokument.