
Die tariewe is op 15 Julie in die Staatskoerant afgekondig nadat die kommissie ’n voorlopige bevinding gemaak het dat bevrore aartappelskyfies vanaf België, Nederland en Duitsland hier gestort word, dat dit lei tot wesenlike skade vir die bedryf in die Suid-Afrikaanse doeane-unie (Sadu) en dat daar ’n oorsaaklike verband bestaan tussen die beweerde gestorte invoer en die skade wat die bedryf ly.
Die tussentydse tariewe geld vir ses maande, met die hoogste tarief wat vir alle Duitse produsente of invoerders geld. Belgiese en Nederlandse maatskappye wat voorleggings aan Itac gemaak het, het meestal laer tariewe gekry as ander produsente of uitvoerders in dié twee lande. Die spesifieke maatskappye se tariewe wissel van 9,23% tot 23,66%.
Ander Nederlandse maatskappye se tarief is 104,52% en ander Belgiese maatskappye s’n 23,06%.
Itac het reeds ’n vorige keer, naamlik op 8 Augustus 2014, bevind dat skyfies vanaf België en Nederland hier gestort word en besluit om teenstortingsmaatreëls in te stel. Die tariewe is eers op 21 Oktober 2016 in werking gestel en het vir vyf jaar gegeld.
McCain Foods SA, wat met ’n markaandeel van 72% die grootste van die drie produsente in die Sadu-gebied is, het in Februarie 2019 ’n aansoek by Itac ingedien dat tariewe ná die verstryking van die vyf jaar weer ingestel word. Teenstortingstariewe kan elke vyf jaar deur ’n sogenoemde sunset review vir nog vyf jaar ingestel word.
Itac het egter nie die ondersoek binne die voorgeskrewe 18 maande voltooi nie en die tariewe het daarom in Januarie 2021 verval. Itac het sy verslag oor die ondersoek in Mei 2021 gepubliseer en hierna in November 2021 self weer ’n ondersoek na storting vanaf 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2021 begin, asook na wesenlike skade vanaf 1 Julie 2018 tot 30 Junie 2021.
Die kommissie se voorlopige bevindings sluit in dat die storting van skyfies prysonderbieding, prysinsinking en prysonderdrukking vir produsente in die Sadu-gebied meebring. Verder is Sadu-produsente se wins benadeel en het hulle dalings in verkoops- en produksievolume, markaandeel, benutting van produksiekapasiteit, hul getal werknemers en opbrengs op belegging ervaar. Hulle het ook negatiewe kontantvloei en groei beleef.
In teenstelling hiermee het gestorte invoer, op ’n indeksgrondslag, vanaf 2018-’19 tot 2020-’21 met 12 persentasiepunte gestyg.
Mnr. Hilton Zunckel, direkteur van die handelsregfirma Hilton Lambert wat McCain Foods SA in die saak verteenwoordig het, het aan Landbouweekblad gesê die baie hoë voorlopige teenstortingstariewe is nie ’n verrassing nie. “Die nuwe ondersoek het bloot bevestig wat die mark reeds uit die hersiening van die vorige tariewe geweet het, naamlik dat die EU nooit opgehou het om Suid-Afrika met gestorte invoer te teiken nie, teen enorme stortingsmarges. Die voorlopige tariewe stel nou die tegniese leemte reg wat ontstaan het toe Itac nie die hersiening binne 18 maande afgehandel het nie.
“Enige uitkoms anders as wat nou op 15 Julie in die Staatskoerant afgekondig is, sou ’n bespotting van die nuwe landboumeesterplan gemaak het.”
Storting plaas druk op winsgewendheid
Mnr. Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika, sê verwerkte, slap skyfies verteenwoordig sowat 10% van die totale aartappelbedryf. “Invoer het tot ongeveer 4% van die bedryf gestyg. As die mark beperk was, sou die aartappels bestem vir verwerking na die varsproduktedeel van die mark verplaas word. Of, as die mark dit sou toelaat, sou die verwerkers hul prys moes verlaag om met die ingevoerde produk mee te ding.
“Die ingevoerde produk het deurlopend teen heelwat laer pryse as plaaslike pryse die land binnegekom. Dié verlaging sou na die produsent gekanaliseer word, wat druk op boerderywinsgewendheid sou plaas.”
Aartappels SA is deel van ’n forum wat die beskerming van Suid-Afrikaanse aartappelprodusente teen onregmatige buitelandse mededinging verdedig. Die organisasie verskaf as deel hiervan mark- en volume-inligting oor die bedryf om perspektief te gee oor die skaal, deelnemers en toepaslike waarde vir die land se ekonomie.
Internasionale reg oortree
Oor invoerders wat graag teenstortingstariewe as proteksionisme kritiseer, sê Jacobs ’n mens moet onthou dat teenstortingstariewe ingestel word as bewys kan word dat ’n produk deur onbillike praktyk hier geland het. “Dit is ’n oortreding van internasionale wetgewing. Met ander woorde, dit is nie debatteerbaar nie. Ons het nog nooit billike, markverwante invoer teengestaan nie.
“Invoerbeskerming is nie kunsmatig nie. Dit is juis stappe om enige kunsmatigheid waarmee die buiteland ons markte betree, reg te stel.
“Suid-Afrikaanse aartappelboere bring al vir jare ’n produk van besonderse gehalte ekonomies na verbruikers, reg deur die jaar.
“Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar ’n mens elke dag van die jaar vars aartappels op winkelrakke het. Dit word direk bedreig deur ontwrigtende praktyke van ondernemings wat nie die Suid-Afrikaanse verbruiker se belange op die hart dra nie.”