Die uitstekende wolpryse het tot ’n groot vlaag diefstal in die voormalige Transkei gelei. Teen huidige pryse word boere daar se verlies reeds op meer as R300 000 beraam, sê dr. Amie Aucamp, adjunkhoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV).
In die jongste uitgawe van die NWKV se amptelike nuusblad Wolboer sê Aucamp in Desember en Januarie was daar tien bevestigde gevalle waar wolbale uit skeerhuise gesteel is.
Die gebied wat die ergste geraak is, is skeerhuise in die omgewing van Sterkspruit, Indwe en Queenstown. Sowat 74 bale of 28% van die wol wat deur boere daar geproduseer word, het spore gekry. Aucamp sê vir talle van die boere, van wie die meeste vroue, is die jaarlikse wolskeersel hul enigste inkomste.
“Ons het dit oorweeg om die skeerhuise en die inhoud te verseker, maar die koste is só hoog dat dit nie die moeite werd is nie.
“Talle van die skeerhuise is in afgeleë gebiede wat die diewe genoeg tyd gee om ongesiens met hul buit spore te maak.” Niemand is nog in verband met die woldiefstal in hegtenis geneem nie.
29 Maart 2011