Hoedspruit en sy omliggende omgewing ondervind ses weke ná erge vloede steeds drinkwaterprobleme, sê die Hoedspruit-boerevereniging.
Mnr. Jurie van Vuuren, bestuurder, sê die suiweringswerke op die dorp het glo groot probleme met kapasiteit sedert die vloede. “Hulle kan nie ál die suiwering hanteer nie, die dorp sukkel baie.”
Hy sê die munisipaliteit gee daagliks aan elke huishouding ’n sekere hoeveelheid water waarmee hulle oor die weg moet kom. Tenks met water is uitgesit waar huishoudings op plase water kan gaan haal, maar dié tenks veroorsaak “ook maar ’n gemors”.
Skade
Van Vuuren sê volgens die opnames wat boere ingedien het oor die skade wat hulle weens die vloede gely het, staan die skade op besproeiingsgrond op sowat R70 miljoen. Dít sluit nie skade aan oeste in nie.
“Dis skade aan brûe, damme, paaie, besproeiingstelsels, pompe, heinings en weens gronderosie. Van dié skade sal seker wel deur versekering gedek kan word, maar dit is hoe die syfers nou lyk.
Die oesskade sal eers heelwat later bereken kan word,” vertel Van Vuuren. Baie van die paaie in die omgewing is steeds onbegaanbaar, en verskeie boere het self ingespring en ’n plan gemaak om hul paaie te herstel.
Skade op wildplase, aan infrastruktuur en weens ekotoerisme-verliese, staan op sowat R90 miljoen.
Van Vuuren sê ’n aansoek om ‘n ramphulpfonds is reeds by die Departement van Landbou ingehandig. “Ons het reeds ’n volledige aansoek by die departement ingedien, en wag nou op terugvoering van hulle af,” aldus Van Vuuren.
28 Februarie 2012