Die skade wat oorstromings twee weke gelede in die Hoedspruit-omgewing aangerig het, beloop miljoene.
Mnr. Jurie van Vuuren, bestuurder van die Hoedspruit-boerevereniging, sê voorlopige bepalings dui op skade van sowat R100 miljoen.
Dié skade is grootliks aan besproeiingsplase aangerig, en dit sluit nie skade aan mango- en sitrusoeste in nie. “Dit is grootliks skade aan infrastruktuur, gronderosie en ander toerusting. Dié bepaling sluit ook nog nie die skade in wat aan wildplase en private reservate aangerig is nie. Die verliese in toerisme-inkomste gaan ook enorm wees.”
Volgens Van Vuuren is die sperdatum vir skadebepalings eers aan die einde van die week. Alle skade is dus nog nie aan hulle bekend nie.
Water
Intussen sê mnr. Braam van der Merwe, ’n boer van die distrik, ’n gebrek aan water vir menslike gebruik is tans ’n bron van kommer. “Die water is vuil en vol modder. ’n Mens kan dit nie drink nie, en dit kan ook nie gebruik word om wasgoed of skottelgoed mee te was nie.”
Volgens Van der Merwe bring vrywilligers van die Rooikruis en ander instansies groot verligting met die verskaffing van water en ander benodigdhede. “Fabrieke, pakhuise en droogeenhede, wat die vrugte wat tans geoes word moet koel hou en verwerk, moet water op groot skaal van ander bronne af inry.”
Van der Merwe sê die elektrisiteitstoevoer, wat ná die vloed dae lank af was, is intussen herstel. “Ons krag was ná vier dae weer aan. Die infrastruktuurskade, soos verspoelde paaie en brûe, besorg wel tans baie hoofbrekens, maar ons kom reg.”
2 Februarie 2012