
Dit is onaanvaarbaar dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die Nasionale Tesourie moet smeek vir geld om sy mandaat te realiseer, meen me. Rosina Semenya, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye.
Die Finansiële en Fiskale Kommissie het in sy jongste assessering van die departement se vordering, aangedui dat hy slegs 20% van die totale begroting van R27 miljard kry, wat hy met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming deel.
Dit verteenwoordig ook slegs 0,01% van die nasionale begroting, terwyl die Nasionale Ontwikkelingsplan duidelik aandui dat die landbousektor een van die vinnigste skeppers van werk is en boonop voedselsekuriteit kan verseker.
Sorg dat die geld beskikbaar is
Semenya het gesê wanneer pres. Jacob Zuma die prioriteite aankondig waarmee staatsdepartemente hulle gedurende die jaar moet besig hou, moet die Tesourie sorg dat die geld beskikbaar gemaak word. “As ons ’n Tesourie het wat nie weet wat die mandaat van die departement is nie, dan is daar ’n probleem want hulle moet die geld beskikbaar stel.
“Waarom moet landbou smeek vir geld?,” het Semenya gevra.
Die kommissie het gesê weens die swak ekonomiese omgewing moet álle departemente, insluitend die landbou, hulle begroting herprioritiseer totdat die ekonomie verbeter.
Moet mandaat verwesenlik
Semenya het uitgewys dat dit die verantwoordelikheid van die kommissie is om toe te sien dat die Tesourie leiding neem in die toestaan van geld sodat die departement sy mandaat kan verwerklik.
“Hoe bestuur hulle geld as hulle die departement vra om te gaan onderhandel oor geld?”
Genl. Bheki Cele, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het aan die komitee gesê daar word nou al die afgelope drie jaar oor die departement se karige begroting gepraat, maar duidelik is geld nie beskikbaar nie. Selfs pres. Zuma het al gesê die landbou moet meer geld kry. Cele het aangedui dat die departement se begroting volgende jaar selfs minder sal wees.
Verbetering in BBP
Die landbousektor se bydrae tot die land se bruto binnelandse produk het sedert 1960 begin daal, maar ’n effense verbetering van 2,37% tot 2,4% tussen 2015 en 2016 het voorgekom. Die sektor se bydrae sal na verwagting 2,5% vir die volgende drie jaar bly.
Die kommissie het gesê ten spyte van die sektor se klein bydra en sy dalende bydra tot die ekonomie, bly hy steeds belangrik vanweë sy groot skakels met die res van die ekonomie en die bydraes wat hy tot uitvoer en werkskepping bied.