Die Landbounavorsingsraad (LNR) moet in opdrag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye pekelwater-inspuitings in hoendervleis ondersoek.
Luidens ‘n verklaring volg dié stap na die departement beweringe van wanpraktyke by Supreme Poultry in Botshabelo buite Bloemfontein ondersoek het. Dié ondersoek is op 18 Januarie gedoen. Die departement het bevind dat die inspuitingspraktyke wat toegepas is, nie aan die bestaande regulasies van veral die Wet op Veiligheid van Vleis, voldoen nie.
Onreëlmatighede rondom bevrore vleis, en die herverwerking en herverspreiding van bevrore vleis wat verval het, is ook opgemerk.
Die bestaande praktyk
Onder die bestaande beleid rondom die praktyk mag pekelwater-inspuitings slegs gebruik word in borsvleis. Volgens die departement word dit egter tans op alle hoendervleisporsies gebruik, en in sommige gevalle word oormatige hoeveelhede – tussen 30% en 60% - pekelwater in individuele bevrore porsies ingespuit.
Dit is as ‘n oortreding van die wet asook ‘n risiko vir verbruikersgesondheid geïdentifiseer, wat ook lei tot laer voedingswaarde.
Die departement sê hy sal voortgaan om die situasie te monitor, en die abattoir in Botshabelo is intussen opdrag gegee om die wanpraktyke onder die wakende oog van die Vrystaatse Veeartsenykundedienste reg te stel.
10 Februarie 2011