Hoër voorlopige betalings op invoer is aangevra ná ’n kommissie van ondersoek bevind het dat hoendervleis van Brasilië in die Suid-Afrikaanse Doeane-gebied (SADU) gestort word.
Luidens ’n verklaring sê die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie van Suid-Afrika (ITAC) dié bedryf is weens dié storting benadeel.
Van die nadele was ’n verlies aan inkomste, erosie van markaandeel, aansienlike prysverlagings en beperkte produksie en groei vir die plaaslike bedryf. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het die kommissie genader om die ondersoek te doen.
Volgens ITAC het rolspelers in die bedryf nou die kans om kommentaar op die voorstel te lewer voordat dit geïmplementeer word.
Verhoging
Drie maatskappye in Brasilië het hul samewerking aan die kommissie gebied en hul finansiële state en ander dokumente beskikbaar gestel. Op grond van dié inligting het die kommissie om die verhogings aansoek gedoen.
Dié verhoging is gegrond op die verskillende stortingsmarges wat die kommissie op sekere hoendersnitte kon vasstel. ’n Verhoging van 6,26% ad valorem is op beenlose snitte van Aurora Alimentos, een van die drie maatskappye, bepaal.
Die ander verhogings is 62,93% ad volarem en 46,59% ad volarem op beenlose en gevriesde heel snitte op alle ander invoer van Brasilië af.
Dié voorlopige betalings sal vir 26 weke geld. Die kommissie sê nog geen bewyse kon gevind word dat porsies met bene of afval op die mark gestort word nie.
Daling
Dié maatreëls kan na verwagting lei tot verlaagde invoer van Brasilië af, maar die kommissie voorsien nie dat ’n tekort in die plaaslike mark sal ontstaan nie.
In 2010 was sowat 44% van die streek se totale invoer van gevriesde heel hoenders van Brasilië afkomstig. Altesame 94% van die streek se heel bevrore hoendervleis-, en beenlose hoenderinvoer is in dié jaar van Brasilië ingevoer.
Die invoer van heel bevrore hoender van Brasilië het tussen 2008 en 2010 met 300%, van 3,3 miljoen kg tot 13 miljoen kg toegeneem. In dieselfde tydperk het dié invoer van ander lande met 180%, of 5,7 miljoen kg tot 16,1 miljoen kg, gestyg.
Invoer van beenlose porsies het in dieselfde tydperk met 52% toegeneem, terwyl die invoer van ander lande met 285% gestyg het. Dié hoë styging van ander lande het egter vanaf ’n lae basis, 0,4 miljoen kg in 2008 tot 1,6 miljoen kg in 2010, plaasgevind.
13 Februarie 2012