
’n Proses het begin om 40 000 lê-henne te slag en te verkoop in ’n desperate poging om te voorkom dat 40 000 ander van honger vrek by ’n hoenderplaas wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vir swart bemagtiging gekoop het.
Die onderneming, Mike’s Chicken by Polokwane, het geldelik in die knyp geraak en is in Julie 2016 in sakeredding geplaas, onder meer oor hoë voerpryse en omdat die Departement versuim het om ’n langtermyn-huurkontrak met die begunstigdes te teken sodat dit as sekuriteit vir finansiering kon dien.
’n Dringende aansoek teen pres. Jacob Zuma, as hoof van Suid-Afrika se uitvoerende gesag, en drie ander partye sou vroeër vandeesmaand in die Hoogeregshof in Polokwane gebring word om die Regering tot optrede te dwing. Dit is egter op regsadvies van die dringende rol verwyder en op die gewone hofrol geplaas vir 27 Februarie.
Die ander respondente in die saak is mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sy department en die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in Limpopo. Hulle gaan die aansoek teenstaan.
Mnr. George Nell, senior sakereddingspraktisyn van Corporate Business Rescue en een van die sakeredders, sê die lê-henne het normaalweg sowat 340 000 eiers per week gelê, wat in broeikasate geplaas is om tussen 270 000 en 300 000 dagoud kuikens te produseer. “Hiervan is 200 000 volgens ’n kontrak aan Country Bird Holdings verskaf en die res op die ope mark verkoop.”
Omdat die henne baie min kos kry het die eierproduksie met 58% gedaal. “Ons het nie meer hoenderkos nie en kan ook nie die werkers betaal nie. In ’n poging om ten minste van die hoenders te voed tot ná die hofsaak en die werkers te behou slag ons nou henne wat ons uit die hand verkoop. Ons moet ook eiers inkoop om aan ons kontrak met Country Bird te voldoen.”
Nel sê na aanleiding van ’n skrywe van mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, aan hoenderboere dat hulle by die Departement van Handel en Nywerheid om hulp moet aanklop voordat hulle werkers begin afdank en handdoek ingooi, probeer hulle uit hierdie oord ook vir hulp aansoek doen. “Ons sal graag ’n reggstryd met die Regering wou vermy. Ons vra net hulp om die onderneming te probeer red en krediteure te help.”
Mike’s Chicken pleit in sy aansoek dat die Regering geldelik moet help om die hoenders te voer en werksverliese te voorkom. Hulle vra ook dat die departement ’n geldige huurkontrak moet sluit met Cultiver Investments, aan wie die plaas oorgedra is.
Volgens die sakereddingsplan is die huurkontrak, sodra dit geteken is, die onderneming se waardevolste bate, met ’n geraamde balansstaatwaarde van nagenoeg R30 miljoen. Die ander bates, soos hoenders en eiers, word op onderskeidelik R16 miljoen en R4 miljoen geraam en die totale skuld op sowat R100 miljoen. Konkurrente krediteure sal nul sent in die rand ontvang as die onderneming gelikwideer word.
Me. Annatjie Loio, voorsitter van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika, wat in haar private hoedanigheid as graanhandelaar ook ’n skuldeiser is, sê geeneen van die krediteure sou betrokke geraak het as hulle nie onder die indruk gebring was dat die staat betrokke is en staatsgeld op pad is nie.
“Dit is vir my onverstaanbaar dat daar soveel skuld sonder sekuriteit kon wees en ook dat die staat niks doen om sy hoenderbedryf te probeer red nie.”