
Die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) het bevestig dat hy ’n klag van Brasilië ontvang het oor die teenstortingsmaatreëls wat Suid-Afrika teen Brasiliaanse hoendervleis ingestel is.
Volgens protokol het die verskeie partye 60 dae om met WHO-konsultante in gesprek te tree om die saak te bespreek en, sonder litigasie, ’n geskikte oplossing te vind. Indien dié gesprekke nie tot ’n bevredigende oplossing lei nie, sal die saak deur ’n paneel beslis word.
Dié stap volg nadat die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) in Februarie voorgestel het dat ’n teenstortingstarief van 62,93% op heel hoenders gehef word, 6,26% op produkte wat deur ’n Brasiliaanse maatskappy na die SA Doeane-unie uitgevoer word en 46,59% op alle ander invoer van ontbeende hoendervleis.
Plaaslike mededingers slyp ook tande
Die Assosiasie van Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) is ook besig om voor te berei vir ’n regsgeding teen die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.
Mnr. Georg Southey, voorsitter van die AMIE, het op die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkersvereniging (Sampa) se jaarvergadering op Irene, Pretoria, gesê die bedryf kan nie meer meeding nie omdat verbruikers besef ingevoerde produkte is beter omdat plaaslike vleis met soutwater ingespuit word.
“Nou probeer die plaaslike bedryf alle mededingers uit die mark druk. Invoer voed die armes, nie die boonste deel van die mark nie. Sonder hoenderinvoer sal ons wegholinflasie beleef.”
Southey het op die vergadering gesê die plaaslike pluimveebedryf “is verslaaf aan beskerming”.
Bewerings verwerp
Mnr. Kevin Lovell, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), het die bewering, dat die mark ingevoerde hoender verkies, verwerp.
“Ons het reeds ’n aantal studies gedoen wat daarop dui dat plaaslike verbruikers Suid-Afrikaanse produkte verkies. Ingevoerde hoender verkoop omdat dit goedkoper is as plaaslike produkte. Dit word basies in Suid-Afrika gestort.
"Heelwat ingevoerde hoender word weer in Suid-Afrika verwerk. Die hoender word ontvries, met pekelwater ingespuit en wéér gevries. Dit is onderduims om te beweer dat soutwater die rede is dat ons nie kan meeding nie.”
Dit is ’n internasionale gebruik om hoender met pekelwater in te spuit en is nie tot die plaaslike bedryf beperk nie.