
Die Assosiasie van Vleisinvoerders en -uitvoerders van Suid-Afrika (Amie) het met regstappe oor Suid-Afrika se beskermingstarief op ingevoerde Europese hoenderstukke aan die been begin.
Dié voorlopige tarief van 13,9% het sedert Desember verlede jaar tot 3 Julie vanjaar gegeld, en die plaaslike pluimveebedryf hoop dit gaan, ná verdere ondersoek deur die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac), deur ’n langer durende en hoër tarief vervang word.
Invoerders het die tarief vanuit die staanspoor veroordeel, terwyl plaaslike produsente gevoel het dis “te min, te laat”. Mnr. David Wolpert, uitvoerende hoof van Amie, het nou in ’n verklaring gesê die organisasie wil ’n hofbevel teen dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) kry vir die hersiening en tersydestelling van Davies se besluit rakende ’n ondersoek vir die instelling van die beskermingstarief.
‘Onwettig’
Hy sê die SAPV se aansoek om ’n beskermingstarief is ingedien terwyl Suid-Afrika se vorige ooreenkoms oor handel, ontwikkeling en samewerking (TDCA) met die Europese Unie (EU) nog gegeld het.
Davies het Itac opdrag gegee om ’n ondersoek oor die aansoek te doen, wat nog nie afgehandel was toe die nuwe die Europese Vennootskapsooreenkoms (EVO) op 1 Oktober verlede jaar in werking getree het nie. Volgens Amie is Davies se besluit in Desember verlede jaar, dat Itac sy ondersoek voortsit, onwettig was en dat die minister die TDCA-proses moes gestaak het toe die EVO in werking getree het.
Wolpert sê die minister se optrede sal “potensieel slegte gevolge vir die uitvoermark hê, omdat handelsvennote baie ontevrede is met Suid-Afrika se benadering,” sê Wolpert.