
Die hoenderbedryf het vroeër vanjaar by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) om ’n beskermingsmaatreël teen ingevoerde hoenderstukke aan die been uit die Europese Unie (EU) aansoek gedoen.
“Ons glo nie enige tarief laer as die ‘most favoured nation’-tarief van 37% sal werk nie,” sê mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SA Pluimveevereniging (SAPV).
Itac het egter ’n tarief van slegs 13,4% by dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, aanbeveel.
Lovell sê die EU-kommissie het bevestig dat Davies reeds aan hulle geskryf het, maar teen druktyd het Davies nog nie sy besluit oor ’n tarief aangekondig nie. Lovell het verwag dat dit binnekort sou gebeur.
Vorige ervaring
Hy sê vorige ervaring het gewys die enigste teenstortingstariewe wat gewerk het, was die 30% of meer wat teen Duitse maatskappye ingestel is.
Mnr. Tinashe Kapuya, hoof van internasionale handels- en beleggingsintelligensie by Agbiz, het by die landbousakekamer se vooruitskouing vir aanstaande jaar gesê wanneer ’n bedryf nie die soort beskerming kry waarop hy gehoop het nie, kan hy nie dadelik weer teruggaan na Itac nie, maar moet vir ’n sekere tydperk wag.
Om te oorleef
“Ons sal op die beleidsaksieplan vir die landbou moet staatmaak om die bedryf te help oorleef,” het Kapuya gesê.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het gesê die pluimveebedryf is weens die droogte en gepaardgaande hoë koste van voer onder baie groot druk.
“Sodra ons weer ’n surplus-mielieproduksie kan hê, sal dit ons braaihoenderbedryf sekerlik meer mededingend maak.”