
Die hoeveelheid hoendervleis wat ingevoer word, het in September tot feitlik dieselfde vlak as ’n jaar gelede gestyg.
Dit kan daarop dui dat ondernemings wat hoendervleis uit die Europese Unie invoer, reeds maniere gekry het om die voorlopige teenstortingstariewe te omseil, sê mnr. Kevin Lovell, hoof uitvoerende beampte van die SA Pluimveevereniging (SAPV).
Volgens syfers wat mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte van Astral Foods, in ’n aanbieding oor die groep se jaarresultate gebruik het, is 37 128 ton pluimveeprodukte in September ingevoer.
Dit sluit kalkoen- en meganies ontbeende produkte in en is volgens Schutte gelykstaande aan 6,6 miljoen hoenders per week. Suid-Afrika produseer 19 miljoen hoenders per week.
Lovell sê die hoeveelheid wat van Januarie tot September vanjaar ingevoer is, was sowat 1,5% meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Dit ondanks hoër invoertariewe sedert September 2013 en teenstortingstariewe teen drie EU-lande sedert Julie vanjaar.
Die teenstortingstariewe geld alle maatskappye in Brittanje, alle maatskappye buiten een in Nederland, en twee maatskappye in Duitsland.
Altesame nege EU-lande het veeartsenykundige toestemming om pluimveeprodukte na Suid-Afrika uit te voer. Lovell sê hoender uit die EU kom Suid-Afrika nou dalk uit ander lande binne. Dit is ook moontlik dat EU-uitvoerders só graag van hul voorraad wil ontslae raak, dat hulle hul prys verlaag.
SAPV-toetse het gewys van die hoender uit die EU is ouer as wat Suid-Afrikaanse produkte op die rak is.
Schutte het gesê dit is uiters belangrik dat die teenstortingstariewe, wat op 2 Januarie verval, met meer permanente maatreëls verleng word.