
Die voortdurende globale ruolie-handelskrisis weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, produksiestruikelblokke as gevolg van onrus in Libië, die herstel van Chinese vraag danksy die opheffing van inperkingsmaatreëls en die onvermoë van die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande om die ooreengekome voorraad te lewer, het daartoe gelei dat die ruolieprys sedert Mei tot $115,77/vat gestyg het.
Dit het die 1,2%-appresiasie van die rand-dollar-wisselkoers tot R15,76/dollar meer as verreken, sê Makube. Gevolglik is nog ’n styging in brandstofpryse gister aangekondig. Vanaf Woensdag is 93 oktaan- en 95 oktaan-petrol onderskeidelik R2,37/liter en R2,57/liter duurder. Diesel sal meer as R25/liter kos. Diesel met 0,05% swael en diesel met 0,005% swael sal onderskeidelik R2,30/liter en R2,31/liter duurder wees.
Makube sê dié prysstygings tref verbruikers boonop op ’n tyd dat verbruikersinflasie gestyg het en die prima uitleenkoers met 50 basispunte tot 4,75% verhoog is.
Produsentepryse het onlangs vinniger toegeneem as verbruikerspryse. Dit is volgens Makube ’n aanduiding van stygende kostedruk weens hoë brandstofpryse en beperkte voorraad van sommige insette weens bottelnekke in die globale voorsieningsketting.
Die produsenteprysindeks het in Mei vanjaar op ’n jaargrondslag met 19,3% toegeneem. Op ’n jaargrondslag het die prys van graankosse met 30,8% en die prys van vrugte en groente met 20,8% gestyg.
“Die kombinasie van hoër koste om skuld te delg midde-in ’n rekordhoë insetkoste-omgewing sal voortgaan om aan produsente se winsmarges te vreet en kan daartoe lei dat diegene wat reeds finansieel in die knyp is, sal kies om die sektor te verlaat.
“Die stygende brandstofpryse word op verskillende maniere van oes tot die verspreiding van produkte duidelik. Graanprodusente en logistieke maatskappye in die landbouwaardeketting sal die prysstygings voel aangesien bykans 80% van graan padlangs vervoer word. Die vee- en tuinboubedryf, met sitrus se uitvoerseisoen wat volstoom aan die gang is, sal ook geraak word ten opsigte van verspreiding landwyd en uitvoer.”
Aan die verbruikersfront het die verbruikersprysindeks in die tweede kwartaal van vanjaar met 25 punte gedaal nadat dit in die eerste kwartaal met 13 punte verminder het. Verminderde besteding kan ’n demper op vraag en gevolglik produktepryse plaas ten spyte van insetkoste wat op hoë vlakke bly. Dit kan dus produsente se winsmarges onder druk plaas.