
Die Regering ondersoek tans die moontlikheid om ’n nasionale minimum loon in te stel as een van die meganismes om ongelykhede in inkomste te verminder. Agri SA het in ’n voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee vir arbeid gesê ’n hoër nasionale minimumloon sal baie aanloklik vir werkers uit die buurlande wees.
Werkers in Suid-Afrika kry maandeliks ’n minimum loon van R2 420, terwyl plaaswerkers in Namibië ’n maandelikse minimum loon van R888 kry, in Botswana kry hulle R570, in Mosambiek R615 en in Zimbabwe R590.
’n Nasionale minimum loon sal dit ook aanlokliker vir Suid-Afrikaanse boere maak om in buurlande te gaan boer. Dit sal meebring dat die land meer landbouprodukte van sy buurlande sal moet invoer, het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.
“Die instelling van só ’n loon moet met die grootste omsigtigheid benader word, veral in die lig van die Regering se plan om ’n miljoen bykomende werk in die landbou teen 2030 te skep.”
Die sektor se loonuitgawes was volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sowat R14,5 miljard – of 13,3% van die totale koste in 2013/’14. Volgens Van der Merwe moet verskuilde koste, soos behuising, vervoer, water en elektrisiteit,
ten opsigte van plaaswerkers ook in ag geneem word wanneer veranderinge aan die loonvlakke gemaak word.
“Die vermoë van boere om hoër lone te betaal, moet ook oorweeg word teen die agtergrond dat dié sektor ’n prysnemer en nie ’n prysmaker is nie. Verlede jaar se beduidende styging van 52% in die minimum loon het ’n groot impak op die sektor gehad. Altesame 1 996 boere het om kwytskelding daarvan aansoek gedoen.”
Prof. Haroon Bhorat van die Universiteit van Kaapstad het onlangs voorgestel dat ’n spesiale stelsel vir die landbou ingestel word waar die minimum loon laag is, maar dat ’n maatskaplike loon dan vir die lae loon vergoed.
Agri SA is deur die komitee genooi om ’n voorlegging oor die impak van ’n hoër loon op die sektor te doen.