
Dalk lê goeie nuus vir melkprodusente voor weens aanduidings dat melkaankopers in die Wes-Kaap produsentepryse met 30 sent per liter gaan verhoog, het dr. Chris van Dijk, hoof uitvoerende beampte van die Melkprodusente-organisasie, op die MPO Noord se jaarlikse kuilvoerdag op Lichtenburg gesê.
Suid-Afrika se 1 680 melkboere lewer tans sowat 3 000 miljoen liter melk per jaar, wat net genoeg vir plaaslike verbruik is. Die vraag kan die aanbod egter vorentoe oorskry, want die mark vir melkprodukte groei vinnig.
Danksy hoër invoerpryse kan dit ook tot hoër produsentepryse lei. Dit sal goeie nuus wees ná die moeilike tyd wat die landbou weens die droogte agter die rug het.
Derde grootste veebedryf in SA
Suid-Afrikaanse melkboere het gemiddeld 600 000 koeie in melk, met 'n verdere 140 000 wat in 'n droë fase is. Die melkbedryf is dus die derde grootste veebedryf in Suid-Afrika en maak melkprodusente baie belangrik vir die landbousektor.
Met verhoogde produksie van 10%-15% sal Suid-Afrika nie net melk kan uitvoer nie, maar dan sal invoer onnodig wees. “Ek weet nie hoekom melk ingevoer word as ons genoeg produseer nie,” het hy gesê.
Dit gaan beter met die makro-ekonomie, en voerpryse behoort middel 2017 te daal, wat toestande verder vir melkboere kan verbeter.
Van Dijk het gesê boere moet oplet na siektebeheer. Weens milde reëns kom baie insekte voor, wat gevaarlike siektes, soos slenkdalkoors en knopvelsiekte, oordra. Boere moet hul diere voorkomend inent.