
Weghol-inflasie, globale sentrale banke se strenger beleidsiklusse en onsekerheid oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat kommoditeitspryse en ekonomiese groei beïnvloed, het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gedwing om die repokoers met 75 basispunte te verhoog tot 5,5%.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê dié nuus plaas ’n demper op die vooruitsig vir die somergewasseisoen wat rooskleurig was danksy die La Niña-verskynsel wat voorspel word.
“Gewoonlik reageer boere gunstig op sulke gunstige omstandighede deur hul ondernemings uit te brei. Die huidige situasie is egter dat insetkoste eksponensieel toegeneem het, wat beteken dat meer geld benodig word vir die aanplant van nuwe hektare, asook die onderhoud van die hektare wat verlede jaar aangeplant is.”
Die hoër rentekoers beteken ook dat dit boere meer sal kos om skuld te delg, wat marginale boere kan dwing om hul ondernemings te verklein – en diegene wat reeds in ’n droewige finansiële situasie is, dwing om die plaashek toe te trek.
“Die onverbiddelike druk op insetkoste sal waarskynlik, gegewe die onsekerheid op die globale mark, nie verdwyn nie. Dit sal dus moontlik op kort termyn ook druk op boere se winsmarges sit.”