
Australië se wolproduksie sal dié seisoen na verwagting tot 339 miljoen kg styg – ’n toename van 4,3% vergeleke met die vorige seisoen.
Volgens mnr. Russell Pattinson, voorsitter van die Australiese skattingskomitee, word die styging toegeskryf aan die uitstekende produksietoestande wat in feitlik ál die belangrike produksiegebiede ondervind is en hoër vaggewigte tot gevolg gehad het. Dié inligting is vervat in Cape Wools se gereelde blad in Landbouweekblad.
Die verwagte styging in produksie vergelyk met die toename van 4,7% in die gemiddelde gewig van vagte wat die Australiese Woltoetsburo in die eerste nege maande van die seisoen getoets het. Pattinson sê die hoër wolpryse van die afgelope maande het wolboere ook aangemoedig om ouer skape eers te skeer voordat hulle bemark is.
Fynwol is opgeberg
Daarbenewens meen die komitee dat fynwol, veral ultrafynwol, wat op plase en by makelaars opgeberg is weens die lae fynwolpryse die afgelope paar seisoene, ook vir verkoop beskikbaar gestel is in reaksie op die onlangse skerp styging in die pryse van dié tipes wol.
Toetsresultate vir die seisoen tot einde Mei vanjaar toon ’n opmerklike styging in die volume wol van 20 mikron tot 24 mikron wat getoets is en ’n daling in die volume wol van 17 en 18 mikron.
Die toetsresultate toon ook ’n kwaai afname in die volume sterkwol (26-30 mikron). Die gemiddelde veseldeursnee van die Australiese skeersel is 21 mikron, dieselfde as die vorige seisoen.
Aanduidings is dat Suid-Afrika se skeersel ook groter gaan wees. Wol wat tot einde April vanjaar ontvang is, is 3,7% hoër vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede seisoen.