Die Paarlse maatskappy Colors Fruit het ’n voorlopige sege behaal in ’n Hooggeregshofgeding oor die eiendomsreg van vyf gesogte nuwe tafeldruifkultivars.
Nuwe kultivars
Hy was in ’n taai stryd met Sheehan Genetics, Special New Fruit Licensing South Africa (SNFL SA), die Voorgroenberg-kwekery en Olyfenboom gewikkel. Ingevolge ’n uitspraak in die Kaapse Hooggeregshof behoort ál die Suid-Afrikaanse materiaal van die nuwe kultivars (Allison, Krissy, Megenta, Melanie en Melody) aan Colors.
Die maatskappy kan nou sowat 229 000 wingerdstokke wat plantgereed is, onder boere begin versprei. Die kwekery moes sy reg op appèl vir die stokke laat vaar en dit aan die uitvoerder oorhandig.
Voorts word die kwekerye deur ’n interdik verbied om enige plantmateriaal of moederblokke te vernietig, te beskadig of enigsins met die besit of beheer daarvan te peuter.
Appelleer
Mnr. Johan Wiese van Voorgroenberg sê die vier respondente wil teen die uitspraak appelleer. Hoewel die kwekery sedert 2007 die materiaal vermeerder en moederblokke gevestig het, meen hy die eintlike stryd is tussen Colors Fruit, Sheehan Genetics en SNFL SA.
“Daar is nog nie uitsluitsel wat met volgende jaar se stokke gaan gebeur nie. Soos ek verstaan, is ’n finale besluit oor die regte op lang termyn nog nie geneem nie.”
Luidens ’n verklaring behoort daar ná die planttyd sowat 162 ha van die nuwe kultivars in die bedryf gevestig te wees. Wanneer die wingerde volproduksie-stadium bereik, sal 700 000 kartonhouers van 4,5 kg jaarliks gepak word.
21 Oktober 2011