Die Hooggeregshof van Noord-Gauteng het vandag (31 Januarie) bevind dat die Treacle Fund II se regsaksie teen Senwes nie geslaag het nie.
Treacle, ? minderheidsaandeelhouer in Senwes, het dié aansoek in Julie 2010 geloods teen die landboubesigheid en sy houermaatskappy, Senwesbel. Daar is beweer dat sekere historiese aandeletransaksies van Senwesbel ingevolge waarvan Senwes-aandele verkry is, ongeldig was. Die hof is versoek om dit tersyde te stel en dat die aandele aan die oorspronklike aandeelhouers terugbesorg moes word.
Indien die aansoek sou slaag, sou Senwes die aandeleregister moes regstel. Regter Rabie het egter bevind dat daar geen feitelike basis vir die bewerings was nie en dat die aandeletransaksies heeltemal geldig was. Treacle is ook gelas om Senwesbel en Senwes se regskoste te betaal.
"Hoewel Treacle teen die bevinding kan appelleer, is ons tevrede met die hof se bevinding, veral nadat Treacle en negatiewe mediaberigte die uitkoms van die saak probeer vooruitloop het," het mnr. Francois Strydom, Senwes se besturende direkteur, gesê. Hy het daarop gewys dat Senwes nou kan fokus op die strategie en groei van die besigheid.
31 Januarie 2012