
Die stryd teen valskodlingmot gaan eersdaags met hommeltuie aangedurf word.
Volgens mnr. Mark van Wyk, eienaar van FlyH2 Aerospace, 'n maatskappy wat in die ontwikkeling van hommeltuie spesialiseer, sal die diens teen 2018 kommersieel beskikbaar wees.
“Ons het in 'n vennootskap met Xsit, 'n plaagbestrydingmaatskappy, ’n hommeltuig ontwikkel wat binne 'n halfuur tot 140ha per vlug met gesteriliseerde motte, teen 1000 motte per hektaar, kan bevolk.
"Die hommeltuig, 'n AMS Eagleowl, is deur 'n Gautengse maatskappy ontwikkel vir teenstropingvlugte. Dit is 'n robuuste hommeltuig met 'n vlerkspan van 2,5m en 'n vragkapasiteit van tot 5kg. Ons gaan aanvanklik slegs 4kg motte van ongeveer 0.025 gram elk in die hommeltuig laai,” verduidelik Van Wyk.
Gehalte
Mnr. Sampie Groenewald van Xsit reken die hommeltuigdiens kan 'n koste-besparing van tot 30% meebring. Die gehalte van die diens word egter nie uit die oog verloor nie.
Volgens mnr. Onno Huyser van FlyH2 mik hulle daarna om ’n beheerde toedieningsmeganisme vir die hommeltuig te ontwikkel wat minstens ’n gehalte mot sal lewer.
“Ons is ook reeds besig om saam met Xsit en River Bioscience die moontlikheid van pesbestryding met die steriliseringtegnologie vir ander peste te ondersoek. Die vrugtevliegplaag is hoog op hierdie lys. Voor ons egter na ander plae gaan kyk, sal ons eers valskodlingmot op ander gewasse, soos tafeldruiwe, begin teiken,” verduidelik Huyser.
Veiliger
Die vennootskap, Greenfly Aviation, waarin Xsit en FlyH2 Aerospace elk 50% aandeelhouding het, beteken doeltreffende bestryding van valskodlingmot heelwat veiliger as voorheen kan plaasvind.
“Die hommeltuie maak die toediening van gesteriliseerde motte baie veiliger as alternatiewe opsies. In 'n bemande vliegtuig beteken die risiko van ’n enkele fout lewensgevaar. Die hommeltuig is dus veiliger en net so doeltreffend as 'n vliegtuig.
"Boonop is daar meer buigsame opsies met hommeltuie beskikbaar, soos om in die nag, wanneer motte aktief is, die gesteriliseerde motte met hommeltuie toe te dien, wat nie met bemande vliegtuie moontlik is nie,” verduidelik Van Wyk.
Op 'n tipiese enkele vlug sal die inhoud van agt van hierdie boksies van 500g elk met gesteriliseerde valskodlingmotte oor 'n area van ongeveer 140ha vrygelaat word. Tot ses sulke vlugte kan per dag voltooi word. Foto: Verskaf