
Verskeie onwettige hondejagte op plase is die naweek van 15Oktober in die Vrystaat aangemeld. Me. Alani Janeke, woordvoerder van Vrystaat Landbou, sê dié probleem is ernstig aan die toeneem. Dit gaan dikwels met veediefstal gepaard.
’n Raad-op boer van Steynsrus het al R220 000 se skade gely weens wild wat doodgebyt is. Hy sukkel elke naweek met onwettige hondejagte op sy plaas. Die afgelope naweek is verskeie voorvalle by Heilbron, Edenville en Arlington aangemeld.
By Heilbron het verdagtes met sowat 30 honde toegeslaan. Boere het sewe verdagtes aangekeer wat saam met hul honde in die boer se kamp met stoetbulle was, terwyl twee ander ’n huis geplunder het. Die polisie was vinnig op die toneel, maar ’n volstruis en talle hase het nogtans in die slag gebly.
Die boere moes burgerlike inhegtenisnemings doen, en verdagtes aanhou terwyl die polisie die honde en verdagtes stuk-stuk polisiekantoor toe aangery het. By Edenville is een verdagte aangekeer en drie honde geskut nadat ’n springbok doodgebyt is. Nog voorvalle het in dié omgewing voorgekom, maar die verdagtes het telkens gevlug sodra boere daar aankom.
Vroeër vandeesmaand is onwettige hondejagte by Hoopstad en Bothaville ook aangemeld. Janeke sê die onwettige jagters gebruik soms honde om beeste te storm, en terwyl die diere die honde probeer afweer, word kalwers gesteel. Gesteelde kalwers is al weggesteek met ystervarke wat bo in sakke gepak is sodat die polisie of boere nie die sakke verder deursoek nie.
Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se komitee vir wet en orde, moedig boere aan om verdagtes nie alleen te konfronteer nie, maar die plaaswag en polisie in kennis te stel sodat die landelike veiligheidsplan in werking gestel kan word, en verdagtes aan die polisie oorhandig en prosedures korrek vervolg kan word.