Die vloedskade wat boere in die Noord-Kaap raak gaan honderde miljoene beloop, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Dit volg na Agri Noord-Kaap verlede week bekend gemaak het dat ‘n voorlopige skatting van die skade sowat R88 miljoen kan beloop.
Mnr. Johan van Rensbrug, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê dié bedrag was egter slegs van toepassing op boere in die Douglas-distrik. Hy meen hoewel grootskaalse skade aan infrastruktuur aangerig is, die grootste skade aan oesverliese sal wees. “Dit is verlies aan ‘n oes wat nie voor die oorstromings van die lande af kon kom nie asook weens droogte omdat boere hulle pompe uit die water moes trek en nou verdroog gesaaides.”
Volgens Van Rensburg weet hulle nog nie van hulpfondse wat in die verlede aan boere uitbetaal is weens oesskade nie, so hulle verwag net dat ramphulpfondse vir skade aan infrastruktuur toegestaan gaan word.
Die minister
Intussen het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, die skade vanuit die lug bespied en gesê sy en haar departement sal hom daarvoor beywer dat geaffekteerde gebiede tot rampgebiede verklaar word.
Volgens mediaberigte het sy veral haar kommer oor die lot van plaaswerkers wie se huise oorstroom is uitgespreek. Van Rensburg sê hulle is uiteraard ook bekommerd oor werkers, veral seisoenale werkers, want as daar nie ‘n oes is om van die landerye af te haal nie, is daar nie vir hulle werk nie en kan boere hulle ook nie betaal nie.
Asem skep na Maart
Möller sê intussen bevind die land homself in ‘n La Niña-weerpatroon, en die feit dat die water tans begin afloop beteken nie dat dit noodwendig die laaste oorstromings is wat die provinsie en land gaan tref nie – veral na swaar reën die afgelope naweek weer in Gauteng voorgekom het.
“Ek dink ons sal eers teen Maart meer gerus kan wees wat vloede aanbetref,” aldus Möller. Hy sê die minister het wel aan hom aangedui dat die departement nou deur die normale proses sal gaan om aansoek te doen vir ramphulp, “en ons sal maar moet sien hoe vinnig ramphulp beding kan word.”
Foto’s van die uitvloei Vrydag (15 Januarie) by die Augrabies-waterval is ook aan Landbou.com verskaf.
17 Januarie 2011