
Die boer wat in ‘n koma geplaas is om hondsdolheid te oorleef, sterk stelselmatig aan, sê sy dokter. Dr. Grant Lindsay, die 38-jarige mnr. Graeme Anderson se geneesheer, sê Anderson is tans in ‘n kritieke dog stabiele toestand.
Anderson, van underberg in KwaZulu-Natal, is die afgelope 25 dae in ‘n koma. Anderson sê ná Anderson met hondsdolheid gediagnoseer is, is besluit om die Milwaukee-metode te gebruik om sy lewe te red. Dié metode bepaal dat ‘n pasiënt vir 14 dae onder verdowing in ‘n koma geplaas word. Lindsay sê hulle het 11 dae gelede opgehou om Anderson te verdoof, en sy kanse op oorlewing lyk elke dag beter.
Volgens Lindsay bepaal dié behandelingsmetode dat ‘n pasiënt, ná die verdowing gestop is, tot so lank as 28 dae nog in ‘n koma kan wees. “Hy trek vandag by dag 11, so daar is nog ‘n lang pad voor.”
Anderson is steeds aan ‘n ventilator gekoppel.
Anderson het die gevreesde siekte opgedoen toe hy ‘n rondloperhond opgetel het. Dié hond het aan sy hande gelek, wat hom aan die virus blootgestel het.
29 Mei 2012