
Ná ’n dapper stryd van sowat vyf weke teen die gevreesde siekte hondsdolheid word mnr. Graeme Anderson, ’n 29-jarige boer van Underberg Donderdag (14 Junie 2012) op sy plaas ter ruste gelê.
Dr. Grant Lindsay, Anderson se geneesheer, sê die masjiene wat Anderson aan die lewe gehou het, is verlede Vrydag afgeskakel ná hy breindood verklaar is.
Hy sê Anderson “is seker die mens wat nog die langste oorleef het ná hy nie meer verdoof is om in ’n koma geplaas te word nie.” Die Milwaukee-metode van Amerika is gebruik om Anderson te behandel. Dié metode bepaal dat ’n pasiënt vir twee weke lank in ’n geïnduseerde koma geplaas moet word. Ná die twee weke word die verdowing geleidelik verminder. ’n Pasiënt wat dan herstel, kan tot 29 dae lank nog in ’n koma bly.
Bloedklont
Lindsay sê Anderson het baie goeie vordering getoon sedert sy verdowing gestaak is, maar hy vermoed ’n bloedklont het tot sy dood gelei. “Die bloedvate bondel maar saam met so ’n siekte en ek vermoed ’n bloedklont het daartoe gelei dat hy breindood verklaar is.”
Mnr. Mike Green, direkteur vir Aartappel SA in KwaZulu-Natal (KZN), sê Anderson het sowat vier jaar gelede begin om aartappelsaad te kweek en hy het groot potensiaal getoon. “Hy was verlede jaar onder die drie nasionale finaliste vir Saadkweker van die Jaar. Hy het goed gepresteer.” Anderson het saam met sy pa geboer. Die familie is ook groot beesboere in die distrik.
Anderson het die virus opgedoen toe hy ’n rondloperhond opgetel het om dit vir ’n vriend te gee. Die hond het aan hom gelek en hy het die virus so onder lede gekry. Anderson was ook in sportkringe as ’n kranige kanovaarder bekend.
Gauteng
Intussen berig Beeld dat die Gautengse departement van landelike ontwikkeling sy maatreëls om die verspreiding van die virus in die provinsie te beperk, verskerp het. Dít volg ná ’n drie maande oue rondloperhond vroeër die maand in die provinsie aan die siekte dood is. Die hond het van die Oos-Kaap gekom en die departement vrees dat hy ook met ander honde in aanraking was.
Die hond was die derde troeteldier wat die afgelope 18 maande van ’n ander provinsie na Gauteng gebring is, wat positief vir die virus getoets het. Mnr. Malcolm de Budé, hoofdirekteur van die departement se veeartsenykundge diens, sê die situasie is tans onder beheer, maar hulle versoek alle troeteldiereienaars om hul diere dringend te laat inent om verspreiding te voorkom.
“In 2011 is ’n kind in Gauteng dood nadat ’n hond met hondsdolheid hom in die oog gelek het. Dit hoef nie ’n byt te wees nie. Dit is die ergste moontlike manier om te sterf,” waarsku De Budé.
Bron: Beeld