Boere in KwaZulu-Natal word gewaarsku om versigtig te wees met vreemde diere omdat talle voorvalle van hondsdolheid in die provinsie aangemeld is.
Volgens die provinsiale hondsdolheidprojek in KwaZulu-Natal is daar vanjaar reeds minstens 97 gevalle van hondsholheid in die provinsie aangemeld. Die gebiede met die meeste gevalle is die distrik Ugu, Port Shepstone, uThungulu, Bergville en Winterton.
Volgens mnr. Jeffrey Zikhali, woordvoerder van die departement landbou, bosbou en visserye, is die voorkoms van hondsdolheid ’n groot bron van kommer vir die departement.
“Dit is ’n moeilike situasie om te beheer en dit is ook moeilik om te bepaal watter diere is ingeënt en watter nie,” sê hy. Twee mense is glo verlede jaar in KwaZulu-Natal weens hondsdolheid dood.
Moontlike slagoffer
’n Boer van die Underberg en bekende in sportkringe, mnr. Graeme Anderson, is volgens The Witness tans in die hospitaal, vermoedelik weens hondsdolheid.
Anderson het glo sowat 5 tot 6 weke gelede ’n rondloperhond opgetel en huis toe geneem.
Sy dokter, dr. Grant Lindsay, vermoed dat Anderson vanaf dié dier hondsdolheid opgedoen het. Anderson is Vrydag in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in die omgewing opgeneem.
Lees hier waar dr. Jan van Wyk vertel hoe ’n hondsdol dier ’n mens maklik onkant kan betrap.
Bron: News24
7 Mei 2012