
President Zuma se Regering se wetgewende rekord wys dat sy raad aan tradisionele leiers meer as net verkiesingsretoriek was toe hy hulle aangeraai het om die geleentheid aan te gryp wat die heropende grondeiese-proses bied, en beheer oor Suid-Afrika se landelike gebiede te konsolideer, meen me. Nomboniso Gasa, navorser verbonde aan die regsdepartement by die Universiteit van Kaapstad.
Hy het in Februarie tydens ’n toespraak voor die Huis van Tradisionele Leiers dié leiers aangemoedig om ’n span goeie prokureurs te kry om voordeel te trek uit die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte, wat grondeise sou heropen. Die president het die wetsontwerp in Julie onderteken, maar dit maak slegs voorsiening vir grond wat ná 1913 ontneem is.
Die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, het egter al aangedui dat hy beplan om eise in te stel vir grond in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Mpumalanga en die Oos-Kaap wat uit 1800’s dateer. Die voorsitter van die Ingonyama-trust, waarvan Zwelethini die enigste trustee is, se raad moes reeds vroeër vanjaar in ’n parlementêre komiteevergadering bontstaan om vrae oor dié trust se reserwes, staatstoelae en grondeis-planne te beantwoord.
Die trust besit 2 844 903 ha grond en sowat 1 600 aktes is op die grond geregistreer. Die belangrikste funksie van die trust is om die grond tot “wesenlike voordeel en maatskaplike welsyn van individuele lede van die stamme” te administreer. Sowat twee derdes van die trust se inkomste kom uit verhurings. Trustgrond mag nie vervreem of belas word sonder skriftelike toestemming van die tersaaklike tradisionele of gemeenskapsowerheid nie.
Gasa meen Zuma het nou bevestig wat baie landelike inwoners vir jare al sê – dat die Regering daarop uit is om tradisionele leiers se mag te konsolideer ten koste van inwoners van die platteland se regte en burgerskap. Sy sê ook in ’n artikel in Business Day dat die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte teeneise toelaat, wat heel moontlik spanning tussen grondeisers sal veroorsaak. Diegene sonder hulpbronne en mag sal ook kwesbaar wees vir teeneise van veral tradisionele leiers, meen sy. Ouer, onafgehandelde eise is ook nie geskei van nuwe eise nie, en diegene wat al dekades wag vir uitsluiting, sal nou saam met al die nuwe eisers moet wag.
Gasa meen die konsep van grond-sowereiniteit ontglip die president aangesien hy dink dat toegang na grond deur middel van tradisionele leiers klaarblyklik genoeg is vir plattelandse bewoners. Sy voeg by dat die versterking van tradisionele leiers se magte ook bydra tot die konsolidasie van ’n magtige driemanskap wat kop uitsteek in Suid-Afrika: elite tradisionele leiers, die Staat en multinasionale maatskappye in die ontginningsbedryf.
Bronne: