Trekkerverkope van 979 eenhede is byna 61% meer as die 610 eenhede wat in Oktober verlede jaar aangemeld is. Dit beteken dat verkope vir Oktober 2011 die hoogste verkope sedert Oktober 1982.
Mnr. Lane Reynolds, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê tot dusver vanjaar is trekkerverkope byna 46% hoër as verkope vir die eerste tien maande van verlede jaar.
Stroperverkope van 45 eenhede in Oktober, het skerp gestyg vergeleke met die 10 eenhede wat verlede Oktober verkoop is. Vir die huidige jaar tot dusver, is stroperverkope van 239 eenhede 44% hoër as verkope vir die eerste tien maande van verlede jaar.
Vir die twaalfde opeenvolgende maand, sedert November verlede jaar, is trekkerverkope per maand hoër as vir die ooreenstemmende maand van die vorige jaar. Dit weerspieël die volgehoue optimisme in die mark vir landboumasjinerie. Die onlangse skerp waardevermindering van die rand, sal in die afsienbare toekoms lei tot prysverhogings en dit het beteken dat baie boere vroeër besluit het oor aankope. Vooruitsigte vir kommoditeitspryse, veral mielies, lyk goed. Volgens aanduidings is plaaslike graanvoorraad aansienlik verlaag, hoofsaaklik weens groter uitvoer.
Skattings oor trekkerverkope vir die 2011-kalenderjaar is op die oomblik tussen 7 000 en 7 200 eenhede, ongeveer 35% tot 40% meer as verkope in 2010.
4 November 2011