
Ekonomiese groei, verwagte beter weersomstandighede en hoop dat die komende seisoen meer werkgeleenthede sal bring, stem landbousakelui die eerste keer in 'n lang tyd weer optimisties.
Hul sienings oor dié kwessies het in vanjaar se derde kwartaal die Agbiz-IDC-indeks oor sakevertroue in die landbou beduidend laat verbeter.
Nadat die indeks vyf opeenvolgende kwartale onder die draaipunt van 50 punte was, het dit in die derde kwartaal met 13 punte tot by 60 verbeter.
Hoogste sedert 2014
Dit is die hoogste sedert 2014 se derde kwartaal, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoof van agri-besigheidsnavorsing by die landbousakekamer Agbiz.
Die opname is gedoen toe die groei in die land se bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal reeds bekend was, wat 'n rol in hul optimisme kon gespeel het, sê Sihlobo.
Verder het die vooruitsigte vir La Niña- of normale weersomstandighede en verwagtinge vir goeie winteroeste waarskynlik gelei tot hul groter vertroue rakende algemene landbou-omstandighede.
Kommer oor uitvoer
Die indeks meet landbousakelui se sienings in 10 subindekse en Sihlobo sê hoewel die indekspunte in drie gestyg het, het dit in sewe gedaal.
Vertroue in uitvoervolume het met 17 indekspunte tot 33 gedaal, hoofsaaklik weens die droogte en gevolglike laer produksie, met laasgenoemde wat waarskynlik ook die daling in vertroue rakende omset, netto bedryfsinkomste en markaandeel veroorsaak het.
Die droogte is waarskynlik ook die rede waarom vertroue oor debiteurevoorsiening vir swak skuld met 43 punte tot 32 gedaal het, hoewel hoër kommoditeitspryse volgens Sihlobo tot 'n sekere mate in sommige gebiede vir laer produksie vergoed het.
Koste van finansiering
Verwagtings dat rentekoerse voor einde vanjaar kan styg, wat landboufinansieringskoste duurder sal maak, het vertroue oor finansieringskoste waarskynlik met 61 punte tot 31 laat val.
Die daling van 7 indekspunte tot 60 rakende kapitaalbelegging kan volgens Sihlobo wys op toenemende kommer oor politieke en beleidonsekerheid.