
Die jongste internasionale konsensus is dat die heersende neutrale toestande die komende seisoen (die Suidelike Halfrond-somer en Noordelike Halfrond-winter) gaan voortduur, en dat die ENSO-indeks nie, soos vroeër gehoop, die amptelike drumpel na La Niña gaan oorsteek nie.
Die Amerikaanse agentskap National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) het in sy jongste vooruitskouing die vooruitsig op moontlike La Niña-ontwikkeling amptelik geskrap.
Die Australiese weerburo (BOM) het ’n soortgelyke bygewerkte vooruitskouing uitgereik. Hy benadruk dat net een van agt internasionale klimaatmodelle wat hulle vergelyk, nog op die moontlike ontwikkeling van ’n duidelike La Niña dui.
Laer in intensiteit
As ’n La Niña wel sou ontwikkel, behoort dit ’n swak en heel moontlik kort episode te wees, ver laer in intensiteit as die vorige groot La Niña, wat tussen 2010 tot 2012 geheers het, sê die BOM.
Beide aangepaste vooruitskouings is in reaksie op seeoppervlak-temperature in die tropiese Stille Oseaan, die sogenoemde ENSO-indeks, wat op die stand van La Niña en haar klimaat-“broer” El Niño dui. Die indeks het nie in die eerste twee weke van September verder in die rigting van die La Niña-drumpel afgekoel, soos vroeër verwag is nie.
'Ons skrap vooruitsig'
“Sedert die val van 2015-’16 se groot El Niño in April, het (temperature in) die tropiese Stille Oseaan rondom neutraal rondgehang, en nou dink voorspellers dit gaan heel moontlik reg deur die winter die geval bly. Vir nou skrap ons die vooruitsig op La Niña, omdat dit nie meer lyk of gunstige toestande daarvoor binne die volgende ses maande gaan ontwikkel nie,” skryf die span klimatoloë in NOAA se blog.
Hulle wys daarop dat die nodige gepaardgaande atmosferiese reaksie nie met die afkoeling in see-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan die laaste maande gepaard gegaan het nie.
Tot dusver was daar nog net swak koppelings tussen die oseaan en atmosfeer, waaronder ’n klein gebied van sterker as gemiddelde winde in die hoër atmosferiese lae.
Oppervlakte moet afkoel
“Wat egter regtig nodig is om La Niña-toestande aan die gang te sit, is dat daardie sterker as gemiddelde winde oor die oppervlak van die Stille Oseaan rondom die ewenaar moet begin waai, die oppervlak moet begin afkoel, en sorg dat warm waters in die verre westelike dele van die Stille Oseaan opgepoel bly. Ons het oor die laaste paar maande swak uitbarstings van hierdie soort aktiwiteit gesien, maar niks wat oor die langer termyn gevestig het nie.
“Ja, die see-oppervlak-temperature het wel afgekoel, maar daar is nie meer veel koel water onder die oppervlak oor wat hierdie toestand kan laat voortduur of in intensiteit laat toeneem nie.”
Die voorspellers meen dit is steeds nie onmoontlik dat ’n La Niña wel in ons vroeë somer kan ontwikkel nie, maar bereken die kans hierop nou op net so 40%.