Die moontlikheid van ’n tegniese komitee wat as forum kan dien vir die hantering van knelpunte tussen Eskom en sy landbou-kliënte, kry dalk nou nuwe momentum.
Dit volg na ’n gesprek tussen TLU SA en Eskom.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, sê ’n vorige onderneming van Eskom oor só ’n tegniese komitee het nou nuwe beslag gekry ná die gesprek met senior bestuurslui van Eskom. Hy sê hy vertrou dat ander landbou-organisasies ook daarby sal inskakel.
Meintjies sê op versoek van die TLU SA Jongboere is die kwessie van ‘n moontlike rabat op elektrisiteit ook bespreek. “Die saak sal deur Eskom ondersoek word en terugvoer sal mettertyd gegee word.”
Ander sake wat met Eskom bespreek is, sluit in probleme wat boere ondervind met onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening. Daar is aangedring op tydige waarskuwings wanneer geskeduleerde onderbrekings voorkom.
Kommer is uitgespreek oor die akkuraatheid van meters en die koste wat boere moet aangaan om die akkuraatheid te toets. Oor die instandstandhouding van serwitute is gevra dat boereverenigings ook genooi moet word om te tender as diensverskaffers.
TLU SA het aangedui dat hy Eskom se veldtog om energie te bespaar, formeel steun.
8 Mei 2012