Hoër melkpryse aan melkboere in ander lande laat die hoop op herstel in die Suid-Afrikaanse mark opvlam, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Luidens ’n berig op farmonline.com is melkpryse aan produsente in Australië, wat vir die maatskappy Murray Goulburn lewer, vir ’n derde keer verhoog.
Mnr. Gary Helou, besturende direkteur, het boere ingelig dat pryse per kilogram proteïen met $0,20 styg, terwyl vergoeding per kilogram bottervet $0,08 meer is. Dié pryse geld vir melk wat regdeur die 2011/’12-seisoen gelewer is.
“Dit is vir my aangenaam om aan te kondig dat dié stap Murray Goulburn se pryse tot $5,35 per kilogram vaste materiaal verhoog, wat ons voorspelling vir einde vanjaar van $5,30 oorskry,” aldus Helou.
Bedryfsdoeltreffendheid
Volgens Helou is hulle dankbaar dat hulle dié prys ten spyte van internasionale druk op wisselkoerse en ekonomieë kan bereik. Dit is volgens hom ’n gevolg van bedryfsdoeltreffendheid en ’n goed beheerde kostebasis.
Helou sê swakker internasionale pryse word wel verwag, hoewel hulle hul produsente daarteen sal probeer beskerm deur laer produksiekoste en groter interne doeltreffendheid.
Mnr. Dean Kleynhans, voorsitter van die MPO, sê suiwelpryse is internasionaal ’n goeie aanduider van ekonomiese toestande en dit weerspieël gebeure en ekonomiese herstel.
Kleynhans sê dit sal fantasties wees as dié prysverhogings ’n vroeë aanduider van hoër melkpryse ook aan boere in Suid-Afrika sal wees. Verder is die vraag na suiwelprodukte en die verbuiker se veranderende dieet groot faktore wat ’n invloed op die prys kan hê.
25 April 2012