Gerugte wil dit hê dat die horings wat van lewende renosters afgekap word, ’n heelwat hoër prys in die smokkelhandel behaal, het prof. Timothy Haas, ’n navorser van die Universiteit van Wisconsin in Amerika, op die Internasionale Natuurlewe-simposium in Kimberley gesê.
Haas, wat metodes en modelle ontwikkel waarmee natuurlewe volhoubaar bestuur kan word, het gesê hy hou al geruime tyd aanlynforums dop waar die eienaars van wildplase met mekaar kommunikeer. In dié debatte word die gerug oor sogenaamde “live cut”-renosterhoring al hoe sterker.
Stropers wat gevang is, het dit glo al vertel. Haas meen die wettiging van die handel in renosterhoring is een opsie wat oorweeg behoort te word in die stryd teen renosterstropery.
Horings van lewende diere verkies?
As dit egter waar sou wees dat die eindverbruikers van dié swartmark horings verkies wat van lewende diere gekap is, sal die wettige verkope van opgehoopte renosterhoring-voorrade (vanaf dooie diere) nie noodwendig die hoë smokkelpryse die nekslag toedien nie.
“Die onderwerp word vermy, want dit is so ’n verskriklike ding om oor te praat, maar die werklikheid moet in die oë gekyk word.
“Die aard van die eindmark sal bepaal moet word, anders is daar nie ’n kans dat ons die oorlog gaan wen nie.” Haas sê stropers kan op twee maniere afgeskrik word: As die prys soveel val dat dit nie meer vir hulle winsgewend is nie; of as dié wat gevang word, drakoniese vonnisse opgelê word, het Haas gesê.
17 Oktober 2011