
Suid-Afrikaanse boere is hoofstroom-spelers. Ons landbou-sektor is op hul boerderye gebou, en dis die soort bedryf wat gaan help om sinvolle ekonomiese transformasie te bewerkstellig.
“Júlle het die beste en ekonomies suiwerste planne. Dít gaan werk; nie die President s’n nie,” het mnr. Dan Kriek, president van Vrystaat Landbou, op dié produsente-organisasie se jongste jongboer-konferensie gesê.
“Boere bedryf klaar sosio-ekonomiese projekte op hul plase wat nie in die dorpe geëwenaar kan word nie. Ons is almal hoofstroom-spelers, saam met die res van die sake-wêreld.” Dit was kort nadat die internasionale graderingsagentskap Standard & Poor’s die eerste was om Suid-Afrika se ekonomie tot rommelstatus te verklaar.
Kriek het ’n beroep op jong boere gedoen om nie toe te laat dat die landbou weens die huidige politieke onstuimigheid “aan die linker- of regterkant van die Suid-Afrikaanse hoofstroom” afval nie. Hy meen die meerderheid Suid-Afrikaners (dié hoofstroom) is “regdenkende, ordentlike en beskaafde” mense.
Onstuimige tye, nugter denke
“Dis net in die Parlement waar ons so bietjie ruggraat kort.” Teen die einde van ’n week waarin Suid-Afrika deur ’n skokkende Kabinet-skommeling deur President Jacob Zuma en gevolglike afgradering na rommelstatus geruk is, het mense uit alle spektrums van die samelewing kwaad geword en vir die President gesê hy moet bedank, het Kriek gesê.
Hy het bygevoeg dat hy die hoofstroom-Suid-Afrikaners as dié beskou wat oud-minister Pravin Gordhan steun, wat in Zuma se skommeling afgedank is. Hy meen Suid-Afrikaners word in hierdie dae so kwaad omdat hulle al alles gesien het, ook dié politici wat (in die apartheidsjare) “vinger in die lug gesteek het. Ek glo nie Suid-Afrikaners wil dit weer sien nie.
“Ons het toe ’n Grondwet gaan skryf wat sê dat geen politikus weer vir ons vinger in die lug mag steek nie – hetsy oor ons eiendomsreg, ons vryheid van spraak en ons media-vryheid nie.” Hy het ’n beroep gedoen dat die landbou hom in die hoofstroom moet posisioneer, en dat boere hul nie moet ophou met al die rassistiese stellings wat in die sosiale media die rondte doen nie.
“As ons dít kan doen, sien ek ’n teerpad voor ons, en glo ek julle sál suksesvol wees. Mag julle help om ’n bedeling te beding waar enigeen kan wen omdat hy die beste is, ongeag sy velkleur.”