
Drie sleutelpunte in die wysigingswetsontwerp oor onteiening sal met valkoë dopgehou moet word wanneer dié wetgewing eersdaags weer navore gebring word om die Regering se doelwitte met grondhervorming te versnel.
Die nuwe weergawe van die wetsontwerp is nog nie openbaar gemaak nie.
Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR), meen daar is drie sleutelprobleme wat in die vorige weergawe voorgekom het, wat moontlik tog, óf glad nie, opgelos sal wees.
Jeffery se drie punte is:
* Sal ‘n groot hoeveelheid staatsinstellings, van nasionale- tot munisipale vlak, steeds kan onteien deurdat kennis aan die eienaar gegee word van die datums waarop die eienaarskap en besitneem van die eiendom deur die Regering goedgekeur is? Indien wel, sal dit teenstrydig wees met die eiendomsklousule van Artikel 25 van die Grondwet, wat verskeie vereistes neerlê waaraan éérs voldoen moet word voordat ‘n eiendom wettig onteien kan word. Die SAIRR se siening is dat ‘n staatsliggaam éérs ‘n hofbevel moet kry wat bevestig dat die voorgenome onteiening aan alle grondwetlike kriteria voldoen. Bykomend, wanneer ‘n eiendom, byvoorbeeld ‘n plaas, onteien gaan word wat die boer se huis insluit, moet ‘n hofbevel uitgereik word wat bevestig dat die uitsetting noodsaaklik is soos vervat in Artikel 26 van die Grondwet.
* Nóg ‘n vraag wat moet beantwoord word, is wanneer die vergoeding betaalbaar is. Die vorige wetsontwerp het aangedui dat geen geld betaalbaar sal wees totdat die onteiende eienaar en die staat oor die bedrag ooreengekom het of wanneer die hof daaroor beslis het nie. Jeffery sê dit dui daarop dat eienaarskap en besitneming na die staat oorgedra kan word voordat enige vergoeding betaal is en dat geen vergoeding daarna betaalbaar kan wees tensy die onteiende eienaar instem om die staat se voorgestelde vergoedingsbedrag te aanvaar of dit regkry om ‘n hofbevel te kry. Dit kan jare neem om ‘n hofbevel te kry, waarsku sy. Dit is in kontras met die huidige Onteieningswet van 1975 waar ten minste 80% van die vergoeding betaal moet word wanneer die staat ‘n eiendom in sy besit neem.
* Dan kan ook gevra word of die vergoedingsbedrag betaalbaar, voldoende is. Die vorige wetsontwerp het voorsiening gemaak vir markwaarde minus die vier “afslag”-faktore wat ook in die Grondwet gelys is. Jeffery sê as die bewoording steeds in die nuwe wetsontwerp voorkom, kan bevraagteken word of dit genoeg sal wees, veral terwyl die bestaande Onteieningswet nie net volle markwaarde as vergoeding vereis nie, maar ook skadevergoeding vir voortvloeiende verliese, soos die verlies aan inkomste van ‘n eiendom wanneer dit onteien is.
Aan die ander kant is dit moeilik om te redeneer dat die “afslag”-faktore nie van die markwaarde van die eiendom afgetrek moet word nie, siende dat dit die benadering is wat die Grondwet toelaat. Sy wys uit dat die Grondwet dit egter ook duidelik maak dat ander faktore ook in ag geneem kan word by die bepaling van wat billike en regverdige vergoeding is.
Daarom is daar niks in die Grondwet wat verbied dat die huidige reg tot skadevegoeding vir voortvloeinde verlies na die nuwe wetsontwerp oorgedra word nie. Dit sal ‘n billiker manier wees vir onteiende eienaars, op wie die las om herstel te bied, baie swaar lê. Jeffrey sê dit is belangrik dat in gedagte gehou moet word dat die heropening van grondeise nie nét wit kommersiële boere kan raak nie, maar ook swart Suid-Afrikaners wat hulle grond op die ope mark sedert 1991 gekoop het, of hul grond tydens die vorige eisproses teruggekry het. Die nuwe Onteieningswet sal waarskynlik op alle soorte eiendom, nie net plaasgrond, van toepassing wees.