Die motiewe agter die omstrede arbeidsverslag deur die Human Rights Watch (HRW) word bevraagteken en verskeie rolspelers frons daaroor– behalwe die Minister van Landbou.
Luidens die verslag, “Ripe with Abuse: Human Rights Conditions in South Africa’s Fruit and Wine Industries” word plaaswerkers in die Wes-Kaap voldoende behuising, veiligheidstoerusting en basiese arbeidsregte geweier, is die bevinding van dié verslag deur die HRW.
Die portefeuljekomitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming beoog nou ‘n ondersoek na gelang van die verslag wat oor beweerde werkstoestande van plaaswerkers in die vrugte- en wynbedrywe bekend gestel is.
Luidens ‘n verklaring het die Demokratiese Alliansie (DA) dié stap verwelkom. Volgens dié party het mnr. Stone Sizani, voorsitter van die komitee, aangedui dat so ondersoek onderneem sal word om die totale omvang van die werklike situasie te ondersoek.
Kry akkurate inligting
“Dit is noodsaaklik dat ons ‘n meer akkurate stel gevolgtrekkings oor die stand van plaaswerkers se leef- en werkstoestande regoor die land verkry sodat probleme aangespreek kan word waar dit sou bestaan,” aldus die DA.
Volgens die DA het me. Kaitlin Cordes, outeur van die verslag, gesê haar bevindinge is nie op ‘n verteenwoordigende aantal deelnemers, wat die hele vrugte- en wynbedryf insluit, gedoen nie.
Intussen het me. Tina Joemat-Petersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, in ‘n verklaring gesê sy het kennis geneem van die verslag en dit verwelkom.
“Ons verwelkom die intensiewe navorsing wat Human Rights Watch gedoen het en ek, in samewerking met van my mede-Kabinetslede, sal binnekort die geraakte plase besoek om self te sien in watter toestande sommige plaaswerkers en -bewoners leef en werk sodra ons die verslag klaar bestudeer het.”
Beraad vir plaaswerkers
Sy sê verder dat van die aanbevelings wat in die verslag gemaak word, by die resolusies van die beraad wat verlede jaar vir plaaswerkers en ander kwesbare werkers van haar departement aangebied is, bygewerk sal word.
Mnr. Carl Opperman, hoof-uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê die verslag kan ernstige nagevolge vir Suid-Afrika inhou, indien internasionale markte sou besluit om hulle grense vir Suid-Afrikaanse produkte te sluit.
“Dit is dus onaanvaarbaar dat die syfers wat in die verslag genoem word, van ‘n kwantitatiewe en nie ‘n kwalitatiewe aard is nie,” lui ‘n verklaring van die organisasie. Volgens die organisasie is die verslag en die bevindinge daarvan nie met hom gekommunikeer nie, maar bloot aan die media beskikbaar gestel.
Inligting gevra
Opperman sê die HRW is gevra om die inligting van die plaaswerkers wat glo uitgebuit word, beskikbaar te stel, “sodat ons dienooreenkomstig kan optree, selfs al sou die betrokke boere nie lede van Agri Wes-Kaap wees nie.”
Hy sê die HRW weier om die inligting te verskaf, wat talle vrae laat ontstaan, soos: “Bestaan hierdie plaaswerkers wel? Is hulle regtig plaaswerkers? Kan hulle bewys dat die foto’s (wat in die verslag ingesluit is) wel tydens die tydperk van ondersoek geneem is?”
JOYLENE VAN WYK berig uit die Parlement dat die verslag aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming voorgelê is.
Me. Kaitlin Cordes, navorser en skrywer van die verslag, het aan die komitee gesê dat die name van die plase nie bekend gemaak kan word nie oor vertroulikheidsredes. Die plaaswerkers het ingestem om die onderhoude toe te staan slegs as hul name geheim gehou word.
Landbou-organisasies het ook aangebied om die kwessie op te volg, maar ons is bekommerd dat die plaaswerkers geviktimiseer kan word as ons die plase se name gee, het sy bygevoeg.
'Een van daardie vrugtelose oefeninge'
Mnr. Mandla Mandela, ANC-LP, het gesê die portefeuljekomitee moet self kan gaan oorsig doen. “Dit word een van daardie vrugtelose oefeninge waar ons praat oor kwessies en dit bly net by ‘n gepratery.” Hy het dit benadruk dat die komitee dié inligting nodig het sodat stappe gedoen kan word om die mense te help.
Mnr. Thulas Nxesi, adjunkminister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het aan Landbou.com gesê daar kan nie van menseregte- en arbeidskwessies op plase weggehardloop word nie. “Maar ons kan nie net elke verslag en navorsing verwelkom nie. Die verslag is selektief. Waarom fokus dis slegs op die wynplase en nie op alle plase nie?”
Hy het gesê die kwessies wat in die verslag uitgelig word, is nie onbekend nie. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het reeds strukture in plek wat plaaswerker-kwessies hanteer.
“Miskien is ons nie aggressief genoeg nie of doen dit nie op ‘n gekoördineerde manier met ander departemente nie.” Hy het voorgestel dat belanghebbende departemente bymekaar kom om oplossings vir die probleem te vind.
24 Augustus 2011