Die verdoemende verslag deur die Human Rights Watch (HRW) oor die beweerde menseregskendings op Wes-Kaapse plase kan dalk selfs pogings tot handelsabotasie wees, meen me. Helen Zille, Wes-Kaapse premier.
Zille was die genooide spreker op die amptelike opening van Agri Megaweek 2011, wat in die Paarl gehou is.
Afleidings betwyfel
Selfs die ANC stem saam dat die HRW geen werklike afleidings kon gemaak het uit gesprekke met net 85 mense in die Wes-Kaap nie, waarvan baie nie eens op plase is nie.
Haar eerste gedagte was dat die verslag maar net nog ’n poging was om die provinsie in die verleentheid te probeer stel, maar toe lede van die ANC net so verbysterd soos sy daaroor was, het sy besef daar is waarskynlik ander bymotiewe.
Zille sê as sulke misdrywe teen plaaswerkers wel voorkom, moet dit dadelik in die reine gebring word. “Een plaaswerker wat mishandel word, is een te veel”. Die ironie is dat plaaswerkers die meeste sal ly onder ’n boikot van Wes-Kaapse landbouprodukte weens die verslag.
Tyd vir aksie
Daarom is dit nou tyd vir aksie. As daar wel sulke gevalle is, moet dit dadelik ondersoek word. Maar selfs die ANC meen dat tydens die ondersoekmetode ’n swak wetenskaplike basis gevolg is. Altesame 90% van grondhervormingsprojekte in die Wes- Kaap is suksesvol en die landbou het groot groeimoontlikhede in die provinsie.
Maar as die integriteit van boere deur só ’n verslag aangetas word, sal presies dié mense wat probeer om gehelp te word om die landbou toe te tree, die seerste kry, het sy gesê.
12 September 2011