
Die nuus is Dinsdagoggend deur sy vrou, Greta Moodie, bekend gemaak. Schüssler het ná ’n kort siekbed aan kanker gesterf, het sy vrou gesê.
“Ons is een van ons grootste ekonome kwyt,” het die politieke ontleder mnr. Theo Venter aan Landbouweekblad gesê, en bygevoeg dat Schüssler bekend was daarvoor dat hy reguit gepraat het.
“Hy was nooit skaam om sy sê te sê nie en hy het dit met diepgaande navorsing gerugsteun.”
Schüssler was veral bekend as die stigter en hoofekonoom van Economists.co.za en het as hoofekonoom van dié ekonomiese konsultantegroep oor die afgelope 30 jaar ekonomiese navorsing vir verskeie maatskappye en organisasies gedoen. Vir byna ’n dekade van 2007 tot 2016 het hy onder meer ’n maandelikse nasionale ekonomiese barometer saam met Beeld, Die Burger en Volksblad se sakeblaaie gepubliseer wat statistieke oor ál die ekonomiese sektore in grafiekformaat saamgevat het. Verskeie maatskappyhoofde het dié barometer gebruik om hul beplanning vir hul maatskappy se ekonomiese aktiwiteite te doen.
“In baie opsigte was hy meer as ’n ekonoom – eerder ’n ekonomiese statistikus. Hy kon vir jou sommer uit sy kop ingewikkelde reekse syfers van jare gelede gee. Tesame met sy ekonomiese insig het hierdie vermoë van hom ’n besondere ekonoom gemaak,” het die sakejoernalis Ryk van Niekerk, redakteur van Moneyweb, gesê.
Schüssler was ook die verwerker van die data van BankservAfrica se indeks van ekonomiese transaksies (Beti) en het sy vinger op die pols van die geringste ekonomiese veranderings gehad.
“As ’n mens regtig ’n mening wou gehad het oor die ekonomie, het jy vir Mike gevra,” aldus Venter.
Lot van gewone mense
Schüssler het hom die lot van gewone mense wat onder die regering se ekonomiese besluite ly, erg aangetrek. In sy rubrieke vir verskillende publikasies het hy gereeld te velde getrek teen veral die hoë belastinglas wat Suid-Afrikaners dra, wat hy met syfers bewys het as die hoogste van ál die ontluikende lande.
In die landbou was Schüssler bekend vir die navorsing wat hy gedoen het ter ondersteuning van die plaaslike pluimveebedryf en om die skadelike uitwerking van die storting van goedkoop, ingevoerde hoenderstukke in syfers vas te vang.
Volgens Venter het Schüssler veral op twee gebiede ’n reusebydrae gelewer: “Een van sy beste bydraes was as vervoerekonoom. Hy was vir baie jare die padvragvereniging se ekonoom en het hom goed gevestig op daardie terrein. Tweedens was sy analise van die arbeidsomgewing en die manier waarop hy die impak van kwessies soos werkloosheid kon interpreteer, baie waardevol.”
Schüssler was vir hom meer as ’n gerespekteerde ekonoom wat ’n groot bydrae tot die ekonomiese diskoers in die land gelewer het, sê dr. John Purchase, voormalige uitvoerende hoof van Agbiz.
“Hy was ’n nederige mens met groot empatie. ’n Mens-mens. Ons sal hom met deernis onthou.”
Op sy beurt het mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, vertel dat sy paadjie met dié van Schüssler gekruis het toe hulle albei as jong ekonome begin praktiseer het.
“Ons het aande omgesit en redeneer oor die ekonomie. Ons het nie altyd aan dieselfde kant van die draad gestaan nie. Ek het hom ’n ‘pienk ekonoom’ genoem oor sy linkse siening en hy het my ’n ‘inflasie-Nazi’ genoem oor my beskouing oor inflasie. Maar ons het baie groot respek vir mekaar gehad.”
Roodt het gesê hy sou dikwels vir Schüssler bel as hy sy mening oor die vervoerekonomie wou hê.
“Hy was ’n ekspert oor vervoer en hy sou my weer raadpleeg oor fiskale sake omdat ek by die Reserwebank gewerk het.”
Maar dit is Schüssler se menswees wat sy uitstaande kenwerk was, volgens Roodt.
“Hy was werklik die mense se ekonoom. Hy het ’n klein hartjie gehad en was nooit lelik of kwaadwillig nie.”
Schüssler, wie se regte naam Hans was, het aan die destydse Randse Afrikaanse Unversiteit, nou die Universiteit van Johannesburg, studeer, waar hy ’n meestersgraad in ekonomie verwerf het. Hy was in 2005 en 2007 Sake se Ekonoom van die Jaar. Met sy dood het hy as raadgewnde ekonoom vir Brenthurst Wealth opgetree.
Hy word ook oorleef deur sy seun, Rudi, uit ’n vorige huwelik.