
Die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou het vandeesweek gehoor hoe miljarde rande verkwis is op swart boerderye as deel van die “Omvattende Landelike Ontwikkelingsprogram”.
Volgens die webwerf praag.co.za het dié program, wat in 2009 van stapel gestuur is, geheel en al misluk om landelike armoede te verlig of enige “ontwikkeling” te bring, volgens LP’s wat die vergadering bygewoon het. Die program was veronderstel om swart bestaansboere in staat te stel om eers kleinboere en dan kommersiële boere te word.
Swart boere wat mentorskap moes ondergaan, is nie deur die program gehelp nie. Volgens uitsprake by die vergadering van die portefeuljekomitee, “heers daar ook ’n gebrek aan toesig oor grondhervormingsprojekte. Dit het daartoe gelei dat begunstigdes van dié projekte amper niks leer nie.”
Die gebrek aan kundigheid in die landboudepartement word as 'n “wesentlike probleem” beskou. Daar is ook 'n ernstige tekort aan gespesialiseerde vaardighede, soos veeartse en regstellende aksie by Onderstepoort verlig dit blykbaar nie. Daar heers glo ’n “volslae gebrek aan vertrekpuntdata oor kleinskaal- en bestaansboere, hul aantal, ligging, toegang tot grond, produktiewe potensiaal en navorsingsbehoeftes”.
“Dit is baie baie moeilik om ’n program se implementeringsukses te beraam as daar geen vertrekpuntdata is nie,” aldus Nokuzola Mngxashe, ’n parlementêre “inhoudsadviseur” vir die portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye.
Bron: www.praag.co.za