“Mineraalreghouers wat met die inwerkingtreding van die Wet op Mineraal- en Petroleum-hulpbronontwikkelings (MPRD-wet) op 1 April 2004 nie sodanige regte kon uitoefen nie en dit ingevolge wetlike voorskrifte verbeur het, het tot 30 April vanjaar tyd om eise vir finansiële verliese weens beweerde onteiening in te dien,” sê Agri SA.
Die organisasie sê selfs in die geval van ’n ongunstige hofuitspraak sal die sperdatum van 30 April van toepassing bly. Die organisasie het vir dié doel ’n riglyn vir die instel van ’n eis saamgestel.
Dié riglyn is aan alle provinsiale landbouverenigings wat by die organisasie geaffilieer is, voorsien. Lede kan die riglyn by hul betrokke verenigings kry en word aangemoedig om regsadvies in te win en eise betyds in te dien.
Wag op hofuitspraak
Intussen wag die organisasie op ’n hofuitspraak van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in ’n regsgeding met die staat oor die toepassing van die betrokke wet. Agri SA meen die toepassing van die wet het die onteiening van mineraalregte meegebring, en dat houers van mineraalregte wat verliese as gevolg daarvan kan bewys, vergoed moet word.
Die staat se siening verskil van Agri SA s’n, maar die organisasie sê hy is beoog om die saak tot in die hoogste hof te voer.
Kontakbesonderhede vir alle betrokke provinsiale landbouverenigings is by www.agrisa.co.za onder die skakel - Kamers/Algemene Sakekamer - beskikbaar.
8 April 2011