
’n Lisensie-ooreenkoms is tussen die Universiteit van Stellenbosch (US) en Genetwister Africa gesluit wat die wingerdbedryf ’n hupstoot sal bied met die identifisering van siektes.
’n Diagnostiese protokol, wat dit moontlik sal maak om virusinfeksies in wingerdstokke akkuraat te identifiseer, mag voortaan deur Genetwister Africa gebruik word.
’n Lisensie-ooreenkoms tussen InnovUS, die tegnologieoordragmaatskappy by die Universiteit Stellenbosch (US), en Genetwister Africa, stel die maatskappy in staat om dié diens te lewer.
Die virusse wat die protokol akkuraat kan identifiseer sluit rolbladvirus, wingerdvirus A, wingerdvirus E, Rupestris gleufstamvirus en netelblaarvirus in. “Die metode is gebaseer op die polimerase-kettingreaksie (PKR), wat die akkurate en sensitiewe opsporing van virusse binne enkele ure moontlik maak,” lui ’n verklaring.
Ekonomie van druiweproduksie
Mnr. Saberi Marais, sake-ontwikkelaar by InnovUS, sê die ooreenkoms kan ’n beduidende invloed op die winsgewendheid van wyn- en tafeldruifproduksie asook op asook op algemene wingerdgesondheid.
“Die innovasie is die geesteskind van die Vitis Laboratorium in die Departement Genetika by die US en die lê die kundigheid en metodes vas wat in hierdie laboratorium vir plaaslike virus-rasse ontwikkel word,” aldus Marais.
Die ooreenkoms is die gevolg van ’n toename in die vraag na diagnostiese toetse vir plantvirusse in die landbou. Dit volg ook op ’n soortgelyke ooreenkoms wat InnovUS en die departement van genetika verlede jaar met Genetwister Africa gesluit het vir ’n diagnostiese protokol om vir virusse wat bladwisselende vrugtebome in die plaaslike vrugtebedryf infekteer, te toets.