
Die LNR se betrokkenheid om kleinskaalse boere in die voormalige Transkei met die verskaffing van aangepaste subtropiese vrugtekultivars en tegniese bystand te ondersteun, het reeds ’n betekenisvolle bydrae gelewer om die karige inkomste van nagenoeg 600 boere in 52 landelike gemeenskappe aan te vul.
Meer as 100 000 vrugtebome, waaronder sitrus, veselperskes, papajas, piesangs, avokadopere en makadamias is die afgelope agt jaar in ’n samewerkingsooreenkoms tussen die LNR en die Is’Baya Ontwikkelingstrust gevestig.
Dit is in ’n gebied wat van Port St. Johns tot aan die Kwa-Zulu Natalse Wildekus strek. Daar is reeds boere wat tot R9 000 per jaar uit die verkope van hulle produkte wat op klein lappies grond van minder as 1 ha geproduseer word, verdien.
Mediatoer deur die LNR
Tydens ’n mediatoer aan die gebied het dr. Shadrac Moephuli, hoof-uitvoerende beampte van die LNR, gesê die hoë gehalte vrugte wat deur die kleinboere verbou, is ’n bewys is dat die LNR se navorsing nie net grootskaalse kommersiële boere bevoordeel nie. “Die aanwending van ons kundigheid in die tradisioneel arm gebiede het reeds ’n groot toename gehad in die aantal boere wat tot die subtropiese vrugtebedryf toegetree het.
“Meer as 5 000 arm huishouding in die Oos-Kaap is nie net nuwe vaardighede geleer nie, maar het nou ook voedselsekerheid en toegang tot voedsame kos.”
Dr. Rosemary du Preez, ’n navorser van die LNR op Nelspruit in Mpumalanga, sê die projek is ’n goeie voorbeeld hoe kleinskaalse boerderye met die regte ondersteuning net so suksesvol as kommersiële boerderye bedryf kan word. “Ons weet nou dat intensiewe boerderye op ’n klein lappie grond nie net lewensvatbaar is nie, maar ook ’n werklike verskil aan die lewensomstandighede van mense en gemeenskappe waar dit bedryf word, maak.”
Volgens mnr. Pandelani Nefolovhodwe, voorsitter van die Is’Baya Trust, is reeds goeie vordering gemaak om koöperasies op die been te bring om die oorskotprodukte wat nie self deur die huishouding gebruik word nie op ordelike wyse te bemark.
Sommige van die boere wat besoek is, doen reeds hulle eie waardetoevoeging soos die maak van konfyt en gedroogde produkte wat aan die toerismebedryf en aan supermarkte voorsien word.
14 Mei 2012