
Aansoeke vir die Jobs Fund se vyfde rondte sluit op 28 Februarie. Dié rondte is op die landbou gerig, spesifiek subsektore wat arbeidsintensiewe landboupraktyke verg. Die landbousakekamer Agbiz sê in sy nuusbrief die fonds is op soek na innoverende benaderings wat omvattende steunpakkette aan kleinskaalse boere sal voorsien.
Hierdie steun moet aandag gee aan die beperkinge wat kleinboere rakende produktiwiteit en kommersiële haalbaarheid het. Die beperkinge sluit onder meer in toegang tot geskikte finansiering, markte, infrastruktuur en integrasie in bestaande landbouwaardekettings.
Die Regering het die fonds in 2011 gestig om geld deur ’n mededingende aansoekproses, waardeur slegs die beste idees gefinansier word, aan organisasies toe te ken. Luidens die fonds se webblad aanvaar hy aansoeke van die private, openbare en nie-regeringsektore. Projekvennote moet die risiko en koste help dra.
Vennote uit die private sektor moet die toegekende bedrag in ’n 1:1-verhouding ewenaar en ander vennote moet in ’n 1:0,2-verhouding bydra. Om kleinskaalse boere te bereik, sal klem geplaas word op vennootskappe en samewerking met groot, ervare tussengangers.
Die fonds sê projekte moet die potensiaal hê om werk op groot skaal te skep. Toekennings sal wissel van ’n minimum van R20 miljoen tot ’n maksimum van R200 miljoen.
Besoek www.jobsfund.org.za vir meer inligting.